NewsNews

Die Bult is besig om baie slegte naam te kry

Potchefstroom – Is die Bult op die afdraande pad? Charl Conradie: Die Bult is ‘n gemors. “Gangsters paradise!” Bartho Boonzaier: “Ek voel regtig jammer vir die eienaars van kosplekke, maar die Bult sien my nie weer voor daar nie plan gemaak word nie. Twee jaar terug het ek so veilig op die Bult gevoel en …

Charl Conradie: Die Bult is ‘n gemors. “Gangsters paradise!”
Bartho Boonzaier: “Ek voel regtig jammer vir die eienaars van kosplekke, maar die Bult sien my nie weer voor daar nie plan gemaak word nie. Twee jaar terug het ek so veilig op die Bult gevoel en nou gril ek myself dood.”
Frans Joubert: “Ons is besig om die Bult as plek van samekoms vir studente en ander te verloor, omdat ons toelaat dat kriminele, dwelmhandelaars en ander ongewenstes stadig maar seker die plek oorvat….”
Die is maar net ’n paar van die inskrywings op facebook, nadat die Herald berig het oor ’n karwag wat verlede week met ’n mes op die Bult gesteek is. Die saak van Jaswyn Damon wat vroeër in die jaar deur ’n mede-student op die Bult met ’n mes gesteek is, het Woensdag voorgekom, waarna dit tot einde Julie uitgestel is. Die Herald het ook vanjaar berig oor ’n vrou wat glo op die Bult verkrag is.
Volgens Santi Britz, raadslid vir wyk 23 waarvan die Bult deel is, is daar reeds programme ingestel om die Bult veiliger te maak.
“Ons is deeglik bewus van die probleme op die Bult. Daarom het ek gaan kers opsteek by kenners, waarna ons met ’n plan vorendag gekom het wat alle rolspelers betrek om die Bult nog veiliger te maak. Die plan sal voor Aardklop al in aksie wees,” het sy gesê. Britz wou nie uitbrei oor presies wat beplan word nie, omdat daar nog met verskeie rolspelers onderhandel word.
“Die Team up, Clean up-projek werk goed. In die dag is die Bult baie skoon en ons span ouens is baie betroubaar. Die probleem is dat hulle net tot 16:00 werk, dit is wanneer die gemors begin,” het sy gesê. Haar DucAround-projek het ook al baie mense veilig by die huis gekry. Tog meen Britz dat daar meer wetstoepassing op die Bult moet plaasvind.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Bult vir die polisie ’n kopseer veroorsaak in terme van misdaad, veral dwelms en diefstal uit voertuie.
Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, meen dat behalwe vir wetstoepassing van veral munisipale bywette, is ’n mark op die Bult vir kriminele geskep.
“Mense wat dwelms wil hê kan dit op die Bult kry. Daar is glo plekke waarheen gesteelde goedere geneem kan word om vinnig verkoop te word. So dit hou die kriminele element daar. As mens die mark wegvat kan mens dalk van hulle ontslae raak,” het hy gesê. Mense se eie nalatigheid maak dit ook makliker vir dié geleentheidsmisdadigers om in die woongebied rondom die Bult misdaad te pleeg.
Die GPF en polisie het verskeie kere deur die Herald die gemeenskap gevra om meer versigtig te wees met hulle besittings, deur nie duursame items in sig in hulle voertuie of naby oop vensters te los nie.Verlede jaar het die Herald berig oor twee mans wat op die Bult ’n skoolkind van sy selfoon beroof het, waarna hulle dit by ’n selfoonwinkel verkoop het. Die eienaar van die winkel het dit aan die kind en sy pa terugbesorg nadat hulle dit tot by die winkel nagespoor het.

 

Related Articles

Back to top button