NewsNews

Facebook bepaal nie jou identiteit nie

Hier vir jou – Adele Botha – Leefstyl konsultant Dis winter, dis koud, alles is vaal en stowwerig en dis vakansie. Anders as sekere mense op jou Facebook, is jy nou nie so gelukkig om iewers met vakansie te wees nie. Die gedagte daaraan laat jou wonder wat jy deur die aand gemis het en …

As ek duiwelsadvokaat mag speel het jy nog ’n lekker wintersgriep ook en besluit om maar in die bed te bly lê, dis nou as jy nie winterskool moet bywoon of moet gaan werk nie.
Nietemin, jou Facebook is oop en jy kyk eers vir nuwe “friend requests”, boodskappe en “notifications”, want dit gee mos immers ‘n aanduiding van hoe gewild jy op die platform is. Daarna blaai jy deur ander se “status updates” en “posts”… Besef jy dat hierdie voorgenoemde, gesimuleerde weergawe van jou moontlike oggendroetine eintlik presies is wat facebook met jou doen?
Dit skep ‘n illusie van hoe perfek, suksesvol en lekker ander se lewens is en subtiel kruip ‘n gevoel van negatiwiteit en mismoedigheid in jou onderbewussyn in. Het jy al ‘n foto van jouself geneem en op Facebook gedeel, net nadat jy opgestaan het en nog nie naby ‘n spieël was nie? Hoekom nie?
Presies dit, mense het aanlyn persona’s en deel net dit wat hulle wil hê ander moet sien, voel en dink oor hulle. Dit wat jy sien is nie noodwendig altyd die realistiese en ware refleksie van omstandighede, gebeure en lewens nie. Facebook het verseker voordele indien dit vir die regte redes gebruik word, maar dit moet nooit jou meetinstrument word wat jou waarde, geluk, selfbeeld, sukses, lewensvordering, populariteit, ens. meet nie.
Jou lewenspad, sukses, drome en ideale lyk anders as jou vriende s’n. 85% van die 14 miljoen Suid-Afrikaanse Facebook gebruikers maak van slimfone gebruik. Jou facebook nuus word bepaal deur al die algoritmes wat aan die onsienbare kant van Facebook hardloop en word bepaal deur jou elke klik op Facebook. Facebook nuus het die vermoë om jou welstand negatief te beïnvloed en kan jou o.a. alleen, minderwaardig, depressief, ens. laat voel. Onthou facebook emosies, hetsy positief of negatief, waar of vals, is aansteeklik. As jy enigsins ’n greintjie negatiwiteit tydens jou Facebook ekskursie ervaar, stop alles en gaan spandeer tyd saam met opregte mense saam met wie jy die werklike lewe in “real-time” kan ervaar.
Vir meer inligting, vrae of voorstelle, stuur gerus ‘n e-pos na born2bmore101@gmail.com

Related Articles

Back to top button