Hy het sy stryd moedig gestry
Hy was die “yster” man met die klein hart wat so maklik deur ander se nood geraak is. Die man wat altyd ’n grappie gehad het en ’n bobaas braaier was wat nooit ’n geleentheid om te braai sou laat verbygaan nie. ’n Man vir wie blokman wees meer as net ’n beroep was. Dit …
Hy was die “yster” man met die klein hart wat so maklik deur ander se nood geraak is. Die man wat altyd ’n grappie gehad het en ’n bobaas braaier was wat nooit ’n geleentheid om te braai sou laat verbygaan nie.
’n Man vir wie blokman wees meer as net ’n beroep was. Dit was sy passie, sy lewe en iets waarmee hy hom só kon uitleef.
Iemand wat tot vanoggend sy stryd moedig gestry het sonder om te kla. Ben Eckard is vanoggend op 57-jarige ouderdom oorlede nadat hy verlede Maandag ’n noodoperasie ondergaan het. Hoewel die operasie om ’n obstruksie te verwyder ’n sukses was, was die kanker net té ver versprei.
Vir Ben was dit 16 genade maande nadat hy in Februarie 2016 met kanker gediagnoseer is. Desondanks chemoterapie en bestraling het hy moedig aanhou werk en selfs die voorreg gehad om vir die eerste keer oupa te kon word.
In Februarie vanjaar het die onkoloog gesê dat die kanker in remisie was, maar Ben se ondraaglike pyn het die operasie verlede Maandag genoodsaak en is gesien dat die kanker versprei het.
Ben was by die 25 jaar lank ’n deel van die Parys gemeenskap. Iemand wat ongelooflik baie gemis sal word, veral by Koepel Vleismark waar hy die laaste jare ’n bekende gesig was.
Hy word oorleef deur sy vrou, Susan, saam met wie hy op 27 September vanjaar hul 20ste huweliksherdenking sou vier, sy kinders Marco en Benico, skoondogter Jacorien en kleinkind Jano, asook sy broers, Alec en Chris, en suster Magda Jooste.
Die roudiens vir Ben is Vrydag 23 Junie om 14:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk in Parys. Die diens sal gelei word deur past. Kobus Oelofse.



