SportSport

Cobras se gif te flou

SASOLBURG. – Die Sasolburg Cobras se eerste rugbyspan se koppe draai nog steeds nadat hy Saterdag op sy tuisveld met 35-22 deur East Rand United (ERU) geklop is. Dié gevoelige nederlaag in die Valke se Merlin-liga laat die Sasolburgers met meer vrae as antwoorde. Die eerste kwelvraag wat ’n dringende antwoord soek is: hoe kan …

SASOLBURG. – Die Sasolburg Cobras se eerste rugbyspan se koppe draai nog steeds nadat hy Saterdag op sy tuisveld met 35-22 deur East Rand United (ERU) geklop is.
Dié gevoelige nederlaag in die Valke se Merlin-liga laat die Sasolburgers met meer vrae as antwoorde.
Die eerste kwelvraag wat ’n dringende antwoord soek is: hoe kan ’n span wat die vaste fasette so oorheers, steeds die onderspit delf?
Wanneer die kragmeting ontleed word, is daar baie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes het.
Maar eerste dinge eerste. ’n Gebrek aan dissipline gaan die Sasolburgers nog duur te staan kom. Die span kan homself gelukkig ag dat ’n kwaadwillige boorvat vroeg in die eerste helfte nie deur die skeidsregter raakgesien is nie.
Hoewel die besoekers self nie engeltjies was nie en twee geelkaarte vir ongeoorloofde spel gekry het, kon dié boorvat die tuisspan duur te staan gekom het.
Danksy ontsagwekkende skrumwerk en ewe goeie dryfwerk van die lynstaan, het Sasol vroeg in die eerste helfte met 17-6 voorgeloop, maar ERU het nooit gaan lê nie.
Twee opportunistiese drieë deur ERU se buitesenter J. Jonkers het die wedstryd op sy kop gekeer. ERU het rustyd met 18-17 voorgeloop. Na rustyd het Sasolburg teruggekap met ’n puik drie, maar ERU het teruggeantwoord met ’n sewepunter van sy eie om weer die voortou met 25-22 te neem.
Ondanks ’n tweede geelkaart wat ’n einde aan sy agsteman, Fanie Spies se deelname aan die spel gemaak het, het ERU sy voorsprong met nog ’n strafdoel tot 28-22 gerek.
Die uitslag van die spanningsvolle kragmeting was tot aan die einde in die weegskaal, maar ’n ERU-drie in die doodsnikke het die besoekers in ’n onaanvegbare posisise geplaas.
Puntemakers:
ERU 35 (18-17): drieë: D. Perries (15), J. Jonkers (2), Regan Fourie. Strafdoele: Perries (3). Doelskoppe: Perries (3). Sasolburg 22 (17): Nie beskikbaar nie.
* In die Peregrine-liga het die Vereeniging-rugbyklub se eerste rugbyspan sy posisie bo-aan die punteleer verstewig toe hy Vaal Reefs Saterdagmiddag in Vereeniging met 38-22 geklop het.
Die tuisspan het rustyd met 19-15 voorgeloop, maar in die tweede helfte tot die hoogste versnelling oorgeskakel.
Vereeniging se o.21 het met 28-8 geseëvier, terwyl die tweede en derde span met 18-8 en 23-5 hulle plekke bo-aan die punteleer behou.
NWU Vaal se beleerde eerste rugbyspan is weer terug op die wenpad nadat hy Boksburg met 30-26 geklop het.
* Die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) se eerste rugbyspan het op sy beurt in die Merlin-liga vir Elsburg met 47-17 geklop.

’n Speler van East Rand United (ERU) se eerste rugbyspan word deur twee verdedigers van die Sasolburg Cobras se eerste span vasgevat. ERU het dié klipharde kragmeting in die Valke se Merlin-liga met 35-22 gewen. Foto’s: Ettienne van Rensburg
’n Speler van East Rand United (ERU) se eerste rugbyspan word deur twee verdedigers van die Sasolburg Cobras se eerste span vasgevat. ERU het dié klipharde kragmeting in die Valke se Merlin-liga met 35-22 gewen. Foto’s: Ettienne van Rensburg

top my as julle kan! Junior van Schalkwyk van die Sasolburg Cobras bars weg met besit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button