NewsNews

Kobie Pienaar – ’n man wat onthou sal word

Kobie Pienaar wat oor baie jare só ’n deel was van Parys en sy gemeenskap, is Donderdagmiddag 8 Junie in die ouderdom van 62 oorlede. Die roudiens is Woensdag 14 Junie om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Parys. Kobie is op 21 September 1954 in Vanderbiljpark gebore. Op 5-jarige ouderdom verhuis hy saam met sy …

Kobie Pienaar wat oor baie jare só ’n deel was van Parys en sy gemeenskap, is Donderdagmiddag 8 Junie in die ouderdom van 62 oorlede. Die roudiens is Woensdag 14 Junie om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Parys.
Kobie is op 21 September 1954 in Vanderbiljpark gebore. Op 5-jarige ouderdom verhuis hy saam met sy ouers, Apie en Ross Pienaar, na Parys.
Op skool was hy bekend vir sy uitmuntende spel in rugby en het hy graag muurbal gespeel en geroei.
In 1975 ontmoet hy vir Hester Venter en in 1978 beloof hy aan haar trou. Drie seuns is uit die huwelik gebore.
Kobie se betrokkenheid in die gemeenskap van Parys loop ’n  ver pad. As kind werk hy by die plaaslike ‘bioskoop’, Astoria. “Ek weet nie of dit vir ’n ekstra geldjie was, en of dit vir hom cool was om dit te doen nie,” vertel sy suster, Magda. Later lewer hy koerante af in Parys vir sakgeld en tydens sy Hoërskool-jare bestuur hy ’n plesierboot in die Mimosa-tuine.
Hy matrikuleer aan die Hoërskool Parys, waarna hy aansluit by die weermag in Bloemfontein. Nadat hy sy diensplig voltooi, sluit hy aan by die familie-besigheid – die konstruksie-maatskappy Rosapie, in Parys.  In 1976 begin hy egter sy eie konstruksie-besigheid, Siggs. Dié besigheid ontwikkel later tot ’n groot sukses, en is vandag ’n bekende entiteit in die Vaaldriehoek – nou bekend as Tradeworx 197.
Hy het ’n groot liefde vir antieke voertuie gehad en het gereeld motorskoue bygewoon. Hy het ook ’n passie gehad vir motorfietse, en was deel van die Harley Davidson-klub, saam met wie hy gereeld op toere gegaan het. Dít was altyd vir hom ’n hoogtepunt.
Kobie was ’n formidabele man wat bekend was vir sy vrygewigheid teenoor ander en gewilligheid om te help. “Hy was ’n man wie se hart konstruksie geklop het,” sê sy oudste seun, Cobus. Vir hóm was sy pa ’n leermeester van formaat – iemand by wie hy “alles van besigheid geleer het”.
Sy seun, Jaco, beskryf hom as ’n man wat altyd ’n plan kon maak, ongeag die situasie.
Volgens sy jongste, Johann, was Kobie ’n man wat altyd sy insigte kon deel. “Hy het kennis van alles gehad en kon altyd inspring en help,” vertel hy.
Kobie was ’n man wat vir sy familie en sy werk gelewe het. “Hy het gesê wat hy meen, en gemeen wat hy sê.” Iemand wat “altyd aan die dink was” – ’n dinamiese man, bekend vir sy werketiek en innoverende geaardheid, ’n  trotse mens wat hard gewerk het vir wat hy wou hê.
Volgens sy suster was hy iemand wat nooit kon stil sit nie. “Hy was altyd besig met planne,” sê sy.
“En sy lag – sy lag sal ek nooit vergeet nie.” Volgens haar was hy nie net ’n broer nie, maar ook ’n vriend én ’n pa.
Met sy positiewe houding en grappe was hy gewild in die dorp, en sy “as a matter of fact-” no-nonsense-houding sal altyd onthou word.
Kobie word oorleef deur sy vrou, Hester, sy suster Magda, sy drie kinders, Cobus, Jaco en Johann, en sy drie kleinkinders.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button