Wonderwerk vir Volkies se kanniedood-rugbykaptein
Volkies se eerstespan rugbykaptein en hoofseun sou nooit gedink het dat sy liefde vir pypkarre in ’n oogwink sy liefde vir rugby byna in die wiele sou ry nie. Dit was net God se genade, aanhoudende gebede en ‘n intense vasbyt wat Henry Campher se regterarm gered het nadat hy sy pypkar gerol en die… …
Volkies se eerstespan rugbykaptein en hoofseun sou nooit gedink het dat sy liefde vir pypkarre in ’n oogwink sy liefde vir rugby byna in die wiele sou ry nie.
Dit was net God se genade, aanhoudende gebede en ‘n intense vasbyt wat Henry Campher se regterarm gered het nadat hy sy pypkar gerol en die metaal sy arm vasgepen het.
Dokters het Henry met kompartement-sindroom gediagnoseer en was van mening dat sy arm afgesit sou moes word. Alles in sy lewe sou drasties verander, maar Henry het hoop omarm en altyd geweet dat dit nie sy tyd is nie.
Slegs drie maande na die ongeluk het hy begin rugby speel en verlede naweek het hy medici verkeerd bewys en trots as kaptein vir Volkies in die Classic Clash teen Gimmies uitgedraf.
“Die dokters het gesê dat ek nooit weer sou rugby speel nie en dat ek 18 maande sou neem om te rehabiliteer. Drie maande later speel ek weer rugby en hier is ek in die eerstespan. Wat my gered het, is dat ek nooit wat die dokters gesê het, kop toe gevat het nie. Ek het heeltyd gedink hoe ek stap vir stap daaroor gaan kom. Jou denke kan baie kragtig wees in so ‘n situasie,” vertel Henry.
Die dag van die ongeluk net buite sy ouers se plaas in Koster tydens die Desembervakansie en oestyd was net weer ‘n normale dag vir Henry en sy geliefde pypkar, wat al baie kilometers se plesier aan hom verskaf het.
“Ek hou baie van karre. Ek het al my eerste motorfiets in graad 3 gehad en van graad 7 af het ek begin om ‘n passie vir pypkarre te kry. Toe ek genoeg geld gespaar het om een toe koop, het my ouers ingestem dat ek ‘n pypkar kon kry,” vertel hy.
Die pypkar het vroeër ’n stuurprobleem gehad, wat daartoe gelei het dat die stuurstang gebreek het. Henry het probeer om beheer terug te kry, maar die agterwiel het in die gras vasgesteek en die kar het toe gerol.
“Ek dink dit was uit reaksie dat ek my arm uitgesteek het om te keer, maar toe druk die kar my arm vas. Dit het eers baie geswel en ek het gedink dat ek my arm gebreek het. My broer se vriend, wat saam met my gery het, het toe my broer, RP, gaan haal om te help.
“My pa het ons toe opgelaai en van daar is ons hospitaal toe. Ek onthou net dat ek nog nooit sulke pyn beleef het nie. Dit was onbeskryflik erg en dit vat aan ‘n mens.
“By die hospitaal is x-strale geneem. Hulle het nie ‘n breuk gesien nie en my toe op ‘n drip gesit. Die dokter het toe daar vir my gesê dat ek kompartement-sindroom het.”
Met die eerste operasie het hulle agtergekom dat Henry se bisep en slagaar geskeur is. Hy het ook senuweeskade in drie van sy vingers gehad. Henry is toe na Unitas-Hospitaal in Pretoria gestuur vir verdere operasies en ‘n veloorplanting, waar hy altesaam 16 dae in die hospitaal deurgebring het.
“Dit was wel skrikkerig toe daar ‘n man in Unitas-hospitaal in Pretoria na my bed toe kom en sê dat hy kunsledemate maak en net solank my mates wou neem. My ouers het natuurlik glad nie daarvan gehou nie,” sê Henry, wie se ouers, Louren en Magdaleen, gedurig langs sy bed vir ‘n wonderwerk gehoop het. Sy ma glo ook dat Henry se amperse hardkoppigheid en kanniedood-houding as ‘n werklike inspirasie beskou kan word.
“Deur dae van verskriklike pyn en koors in die hospitaal was hy nie een dag negatief nie. Al was ons moedeloos en hartseer as ouers het hy sterk gestaan. Ek onthou dat Henry my nog gevra het hoekom ek huil.
“Hy sê toe uit sy hospitaalbed dat hy weer binnekort gaan hardloop en almal ‘n ding of twee sou wys.
“Half-Jack” is net ‘n yster. Die mense wat vir hom gebid het waardeer ons ongelooflik baie. Dit is ‘n wonderwerk,” vertel Magdaleen.
Henry het biokinetika-oefeninge gekry om te doen en gaan ook vir laserbehandeling vir die merke aan sy arm, maar volgens hom is die ergste verby. “Ek kan nou weer lekker arm druk teen die ander seuns in die koshuis. Die Here werk regtig op verskillende ongelooflike maniere.”