NewsNews

Borg nie teruggetrek, verhoor gaan aan

Borg wat vroeër deur die hof toegestaan is aan Anton Loggenberg word nie teruggetrek nie en daar is ook nie strenger borgvoorwaardes vasgelê nie. Só het landdros Jan Claassen pas in die Parys distrikshof gelas en gesê die staat se saak is op hoorsê gebaseer. Die staat het Dinsdagoggend aansoek gedoen dat Loggenberg se borgvoorwaardes …

Borg wat vroeër deur die hof toegestaan is aan Anton Loggenberg word nie teruggetrek nie en daar is ook nie strenger borgvoorwaardes vasgelê nie. Só het landdros Jan Claassen pas in die Parys distrikshof gelas en gesê die staat se saak is op hoorsê gebaseer.
Die staat het Dinsdagoggend aansoek gedoen dat Loggenberg se borgvoorwaardes ingetrek moet word omdat hy na bewering sy borgvoorwaardes sou verbreek het deur beweerde dreigemente ten opsigte van die staat se 204 getuies in die moordverhoor wat tans in die rondgaande hoë hof aangehoor word ná die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa.
Anton Loggenberg is een van die 6 beskuldigdes in die verhoor waar die staat aanvoer dat die 6 beskuldigdes na bewering Jubeda en Tjixa só sou aangerand het op 6 Januarie 2016 dat hul later aan hul beserings beswyk het. Die verhoor in die hoë hof sal nou om 14:00 voortgaan nadat dit Dinsdag eers uitgestel moes word vir die aanhoor en afhandeling van die staat se aansoek vir die terugtrek van borg.
Die staat het aangevoer dat Loggenberg ’n  oproep gemaak het na een van die staatsgetuies, Ockert van Zyl, wat reeds in die rondgaande hoë hof getuig en verskoon is Die oproep was op 20 Mei om 18:45 en het net langer as 6 minute geduur.
Die staat het aagevoer dat Loggenberg glo teenoor Van Zyl sou gesê het dat hy die 204 getuies van die staat gaan doodmaak. Daar is vyf 204 getuies waarvan 2 reeds getuig het sedert die verhoor op 2 Mei begin het.
Kapt. Francois Laux het Donderdag aan die hof gesê dat die beweerde dreigement ’n  negatiewe uitwerking op die staat se ander getuies sal hê omdat hulle sal bang wees om te getuig. Een van die borgvoorwaardes volgens Laux se getuienis is dat daar nie met die getuies kontak gemaak mag word nie.
Hy het ook gesê dat Van Zyl aan hom sou gesê het dat as iets moet gebeur met die “joiners” (soos daar verwys is na die 204 getuies) hy dit nie op sy hande wil hê nie. Die 204 getuies is getuies wat volgens Artikel 204 van die Strafproseswet vir die staat getuig wat beteken dat die getuie homself kan inkrimineer deur vrae wat deur die verdediging, staat of regter gevra mag word, maar openlik en eerlik op die vrae moet antwoord.
Loggenberg het op sy beurt getuig dat hy en Van Zyl al vir n paar jaar ’n besigheidsooreenkoms ten opsigte van geregigtreerde Brahmane het en dat hy wat Loggenberg is geregtig was op 20% van die aanwas van die kudde. Loggenberg het verder getuig dat hy sedert Augustus toe hy die getuielys ontvang het geen kontak met Van Zyl gehad het nie en derhalwe ook nie geweet het wat met die beeste gebeur nie.
Toe hy Saterdag verby die grond gery het waar die beeste is, het hy opgemerk dat daar slotte by die hekke is en toe vir Van Zyl gebel om te vra om na die beeste te gaan kyk. Hy het verder getuig dat hy inligting gehad het dat 31 van die beeste na bewering sedertdien sonder sy medewete oorgedra is na ’n  ander boer in Bapsfontein. Loggenberg het voorts getuig dat Van Zyl hom toe vererg het toe hy vra vir sy deel van die beeste, en hy vir Van Zyl gesê het hy gaan hom dagvaar. Hy het ook getuig hy was onder die indruk dat Van Zyl nie meer ’n  getuie is omdat hy reeds getuig het.
Prokureur Kobus Burger wat vir Loggenberg verskyn het, het aan kapt. Laux gesê dat hy die tydsberekening van die staat se aansoek baie vreemd vind veral nadat een van die 204 getuies vir die staat, Fanie Oosthuizen, se borgaansoek verklaring Maandag in die hof voorgelees is. Hy het die verklaring beskryf as ’n  “bom” wat laat val is.
Burger het dele uit die verklaring aangehaal waar lede van die Valke-ondersoekspan na bewering  glo vir Oosthuizen sou geïntimideer het om vir die staat te getuig met dreigemente dat sy seun en broer ook in hegtenis geneem sal word. Ook dat daar glo “oorlog” sou wees as hy nie praat voor die borgaansoek nie.

Related Articles

Back to top button