News

Verdediging vra oor waaierband en skokstok

  Jy het óf nie gedink die aanranding is só ernstig nie of dit het nie só gebeur nie, het adv. Hans de Bruin dit vandag, Donderdag 18 Mei aan Ockert van Zyl,  gestel toe hy onder kruisondervraging geneem is deur De Bruin in die Rondgaande Hoë Hof in Parys. Van Zyl het gister getuig …

 

Jy het óf nie gedink die aanranding is só ernstig nie of dit het nie só gebeur nie, het adv. Hans de Bruin dit vandag, Donderdag 18 Mei aan Ockert van Zyl,  gestel toe hy onder kruisondervraging geneem is deur De Bruin in die Rondgaande Hoë Hof in Parys.
Van Zyl het gister getuig vir die staat in die saak waar ses mans tereg staan op die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa op 6 Januarie 2016. Die staat voer aan dat die oorledenes op dié dag só erg aangerand is  dat hul later aan hul beserings beswyk het. Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen jr, Cor Loggenberg en Miela Janse van Vuuren is vir die moorde aangekla waarop hulle skuld ontken. Daar is ook ’n  klag van regsverydeling teen Boeta en Loedie van der Westhuizen waarop hulle ook skuld ontken het.
Die verdediging het vandag verskeie punte van Van Zyl se getuienis wat hy gister gelewer het bevraagteken en gevra waarom hy nie dadelik polisie toe is om die aanranding te rapporteer waarvan hy ooggetuie was.
Van Zyl se antwoord was omdat daar polisie op die toneel was het hy nie gedink dat dit nodig was nie.
Van Zyl het in die kruisondervraging gesê dat hy ’n paar minute weerskante van die bakkie waarop die beseerde mans was, uit “nuuskierigheid” staan en kyk het terwyl die een man geslaan en geskok is maar dat hy niks gedoen het om die man te help nie. Die ander man het gesit-lê teen die kajuit van die bakkie en Van Zyl kon nie enige teken van lewe by hom sien nie.
Van Zyl is ook weer uitgevra oor die dag na die voorval toe hy na ’n  karwas onderneming in Parys is waar hy foto’s van die beseerde mans sou gewys het en ook met woorde wat hy beskryf het as “absolute sinnelose bravade” sou “gespog” het oor die voorval.
De Bruin het die 64-jarige Van Zyl  uitgevra oor sy getuienis gister van die skoktoestel waarmee Prinsloo die man wat naby die klap van die bakkie op sy rug gelê het glo sou geskok het. De Bruin wou weet of die skoktoestel gewerk het en het aangevoer dat die toestel se batterye pap was en nie gewerk het nie.
Van Zyl op sy beurt het gesê dat hy glo die toestel wel gewerk het.  Op ’n  vraag van regter Corné van Zyl  of hy die kenmerkende klak-klak geluide kon hoor wat ’n  skoktoestel gewoonlik maak as dit aan is, het hy gesê dat hy nie die geluid gehoor het nie.
Van Zyl het vroeër getuig dat terwyl Boeta probeer het om inligting uit die man te kry  oor waar die wapen was deur hom met iets soos n waaierband te slaan, Prinsloo die man geskok het met die skoktoestel.
Van Zyl het soos gister getuig dat die man nie beweeg het nie en net roggelgeluide gemaak het.
Hy het gesê dat Prinsloo water in die man se mond gespuit het, maar op De Bruin se stelling dat die man vir water gevra het en Prinsloo hom toe gehelp het om regop te kom sodat hy nie sou verstik nie, volgehou dat hy dit nie gehoor of gesien het nie.
“U Edele ek het net gesien dat Boeta net so klein stukkie waaierband in sy hand gehad het. Ek het nie gesien dat die beseerde man die ander deel van die waaierband in sy hand gehad het of dat die man vir water gevra het nie, het Van Zyl gesê.
“Ek kan niks meer sê as wat ek gesien het nie”
Van Zyl het met sy hande gewys hoe groot die stuk waaierband was waarmee Boeta die man geslaan het – ongeveer 20cm, en het saamgestem dat Boeta nie sy volle arm gebruik het om die verdagte te “wiks” soos hy dit gestel het.
Stephanus Johannes Cilliers het vanmiddag sy getuienis gelewer. Die verhoor duur voort.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button