Photo GalleriesSport

Jong Jannie Claassens wil in pa se toks(spore) trap

Die geskiedenis is geneig om homself te herhaal en op Potchefstroom se skolerugbyvelde is daar nou weer ‘n Jannie Claassens wat rugbykenners se monde laat water. Hierdie volbloed Volkie is die seun van die trotse oud-Springbok, Noord-Transvaal en Blou Bulle senter, Jannie Claassens, wat sy stempel op SA rugbyvelde in die 90’s afgedruk het. Jannie… …

Jannie Claassens Junior en Jannie Claassens senior staan by een van laasgenoemde se rugby memorabiliastukke.

Jannie Claassens Junior en Jannie Claassens senior staan by een van laasgenoemde se rugby memorabiliastukke.

Die geskiedenis is geneig om homself te herhaal en op Potchefstroom se skolerugbyvelde is daar nou weer ‘n Jannie Claassens wat rugbykenners se monde laat water.

Hierdie volbloed Volkie is die seun van die trotse oud-Springbok, Noord-Transvaal en Blou Bulle senter, Jannie Claassens, wat sy stempel op SA rugbyvelde in die 90’s afgedruk het.

Rugby is in hulle bloed. Die voormalige Springboksenter, Jannie Claassens sr. gee die spreekwoordelike bal aan vir sy seun Jannie Claassens jr. wat tans vir Volkskool die familierugbytradisie voortsit.

Rugby is in hulle bloed. Die voormalige Springboksenter, Jannie Claassens sr. gee die spreekwoordelike bal aan vir sy seun Jannie Claassens jr. wat tans vir Volkskool die familierugbytradisie voortsit.

Jannie Claassens jr. is ‘n jong belowende o.16 A rugbyspeler en ‘n mens kan dadelik sien dat hierdie twee na mekaar aard. Nie net fisies nie, maar ook in hulle passie vir die spel met die ovaalbal. Jannie sr. het vir jare senter gespeel, terwyl Jannie jr. nou ook die nommer 12 trui oor sy kop begin trek het, nadat hy hoofsaaklik losskakel gespeel het.

Jannie Claassens sr. in sy speeldae vir die Blou Bulle

“Ek het van geboorte af omtrent rugby gespeel. My pa het my al van laerskooltyd in Pretoria  afgerig,” vertel Jannie jr.

“Ja, ek het laerskoolrugby by Laerskool    Wonderboom   en Hoërskool Overkruin afgerig,” wat lekker jare was vertel Jannie sr., wat sy skolerugby by Hoërskool Zeerust gespeel het.

“Jannie het ‘n groot skopvoet aan hom en hy hou daarvan om oor sy teenstanders te hardloop,” vertel sy pa.

“My pa inspireer my om rugby te speel. Ek probeer om in my pa se voetspore te volg. Rugby is in my bloed,” voer Jannie jr. verder met entoesiasme aan.

Van Bloubul blou na Springbok groen en goud

Jannie sr. het na die Cravenweek vir die Polisiekollege rugby op o.20-vlak gespeel en toe vir die Blou Bulle se o.20 en seniorspanne begin speel.

“In 1991 het ons die Curriebeker gewen en dit was my beste jaar vir die Bulle saam met my senterpaar FA Meiring. FA was in my opinie die senter met die vinnigste voete in die land en hy kon enige iemand binne vyf meter klop,” vertel Jannie sr.

Jannie sr. het toe die Springbokspan in 1994 vir ‘n toer na Nieu-Seeland gehaal en alhoewel hy nie ‘n wedstryd vir die Bokke begin het nie, is hy steeds trots op die toere en speelkans wat hy vir sy land gekry het.

“Dit is ‘n ongelooflike gevoel om daardie Springboktrui aan te trek en natuurlik elke jong rugbyseun in SA se droom. Ek het die 1995 Wereldbeker weens ‘n skoueroperasie gemis,” vertel hy. Jannie Sr. was ook op die plaasvervangersbank in toetse teen Frankryk en Engeland na die 1995 Wêreldbeker en het sy stewels in 1999 opgehang.

“My moeilikste teenstander was Frank Bunce van Nieu-Seeland. Hy het net soveel goeie vaardighede gehad. Tim Horan was ook uitstekend,” vertel Jannie, wat in 1992 ook die eer gehad het om in ‘n Wêreldspan teen die Nieu-Seelandse All Blacks te kon speel.

“Ek het na my rugbyloopbaan begin afrig op beide laer- en hoërskoolvlak en in 2010 die konstruksiebedryf betree,” noem hy.

Afrigting sal altyd vir hom na aan die hart lê, juis omdat hy dit soveel geniet om met kinders te werk.

“Dit was ‘n groot voordeel vir Jannie om juis altyd langs die veld te wees wanneer ek afgerig het. Die reserwe sou sommer saam met hom ook bal skop en touchies speel. Dit het sy liefde vir rugby gebou,” vertel hy.

Kroos skitter in rooi en swart

Jannie jr. se beste sportoomblikke tot dusver is in beide rugby en krieket. Op rugbygebied het Jannie vier drieë teen Hoërskool Zwartkop gaan druk in ‘n belangrike wedstryd, terwyl Jannie se tweede goeie sportherinnering op die krieketveld plaasgevind het.

“Teen Gimmies het ek 121 lopies van omtrent 30 balle geslaan. Nog ‘n groot oomblik was om op die Wanderers teen St. Stithians in die T20 Nasionale Skolefinaal te kon speel in 2016,” vertel Jannie jr.

“Die grootste verskil tussen my en Jannie is dat hy soveel meer geleenthede op sportgebied kry as wat ek in my dae gekry het. Dit is regtig wonderlik en ek ondersteun sy sport voluit. Ek is trots dat hy ‘n sportman is.”

Jannie jr. sien tans uit na die tradisionele Volkie-Gimmies Classic Clash wedstryde waar hy graag weer as oorwinnaar uit die stryd wil tree, veral nadat hy verlede jaar in die eerste vyf minute sy kruisligamente geskeur het. “My pa sê altyd vir my dat ek nederig moet bly en op my fiksheid fokus en nie bang moet wees nie. Dit is ook belangrik om jou vriende op die veld te vertrou,” vertel hy.

“Rugby is so ‘n kort tydperk in jou lewe. Jy moet dit soveel as moontlik op skoolvlak geniet. Doen die beste daarin wat jy kan, jy is net een keer jonk,” gee Jannie sr. ‘n stukkie raad aan sy seun, wat aandagtig luister.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button