NewsNews

Verdediging kap na staat oor “gesloer” om bewysstukke te oorhandig

Ná ure se gewag het die verhoor van die ses beskuldigdes wat tereg staan op twee klagte van moord ná die dood van Simon Tjixa en Samuel Jubeda in Januarie 2016, uiteindelik vanmiddag na 15:00 in die rondgaande Hoë Hof in Parys begin. Die hofverrigtinge is egter kort daarna deur regter Corné van Zyl weer …

Ná ure se gewag het die verhoor van die ses beskuldigdes wat tereg staan op twee klagte van moord ná die dood van Simon Tjixa en Samuel Jubeda in Januarie 2016, uiteindelik vanmiddag na 15:00 in die rondgaande Hoë Hof in Parys begin. Die hofverrigtinge is egter kort daarna deur regter Corné van Zyl weer verdaag tot môre 3 Mei om 10:00.
Die verhoor van Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (18), Boeta van der Westhuizen (46), sy seun Loedie van der Westhuizen (18), Miela Jansen van Vuuren (22) en kapt. Henk Prinsloo (46), sal tot 26 Mei duur.
Jubeda en Tjixa se dood het gevolg ná meer as 40 boere die dag gereageer het toe die 73-jarige Loedie die noodknoppie op sy plaas in die Weiveld-distrik gedruk het toe hy na bewering aangeval is.
Boere van die distrik en tot sover as Koppies het in die lig van vroeëre waarskuwings oor ‘n moontlike plaasaanval in die spesifieke omgewing wat al in Desember 2015 bekend geword het, dadelik gereageer, en is die oorledenes deur van die boere op een van die buurplase in hegtenis geneem. Die oorledenes is toe glo sodanig beseer dat hul kort nadat hulle in hegtenis geneem is, aan hul beserings in die hospitaal beswyk het. Die oorsaak van die oorledenes se dood is aangedui as veelvuldige beserings.
Die staat het in Augustus die klagte van moord teen Fanie Oosthuizen, Wian van der Westhuizen, Muller van der Westhuizen en Wikus van der Westhuizen wat vroeër ook onder die beskuldigdes was, teruggetrek. Die klagte van moord is ook teen Riaan Swart, teruggetrek en gewysig na twee klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is op beide klagte skuldig bevind en vonnisoplegging is uitgestel vir vyf jaar, wat beteken dat sou hy binne die volgende vyf jaar aan soortgelyke klagte van aanranding skuldig bevind word, hy op hierdie klagtes gevonnis sal word. Hy mag ook vir die volgende vyf jaar nie ‘n vuurwapenlisensie besit nie.
Van Zyl het met die vlugtige verskyning gevra dat die regspanne ’n  versoek van die SAUK om die verrigtinge op te neem, sal bespreek en môre aan haar terugvoer sal gee sodat sy ’n  finale beslissing hieroor kan maak.
Die verdediging het ook vandag voor die hofsitting te kenne gegee dat hulle ontevrede is oor bewysstukke wat glo baie laat deur die staat aan die verdediging oorhandig is.

Related Articles

Back to top button