Goue toekenning vir Elizabeth
Parysenaars kan met reg trots wees op een van sy inwoners. Elizabeth Fourie spog met ’n goue toekenning vir haar album, “My beste Jesus-liedjies”. Elizabeth het ’n diep spoor getrap op die Afrikaanse kinderliedjie-terrein. ’n Verskeidenheid van CD’s en DVD’s sorg vir baie ure se vreugde in menige huishoudings oor die afgelope 30 jaar. Komposisies …
Parysenaars kan met reg trots wees op een van sy inwoners. Elizabeth Fourie spog met ’n goue toekenning vir haar album, “My beste Jesus-liedjies”.
Elizabeth het ’n diep spoor getrap op die Afrikaanse kinderliedjie-terrein. ’n Verskeidenheid van CD’s en DVD’s sorg vir baie ure se vreugde in menige huishoudings oor die afgelope 30 jaar. Komposisies soos “Morsjors” , “Dierbare Ouma” en “Ek is bly ek ken vir Jesus” het volksbesit geword. Verskeie van haar liedjies is ook opgeneem in die nuwe weergawe van die FAK, Liedboek van die kerk en VLAM.
Skole landwyd sing gereeld Elizabeth se liedjies in eisteddfods, koorkompetisies en kunsfeeste. Heelwat van haar liedjies maak op grond van die opvoedkundige aard daarvan, ook deel uit van die curriculum en leerplanne by skole.
“My beste Jesus-liedjies” is ’n paar jaar gelede uitgereik as ’n eerste album onder Elizabeth se eie handelsmerk, EF MUSIEK. Dit het dadelik die aandag getrek en is deur die ATKV met ’n spesiale Lier-toekenning vereer.
Dit is in totaal ’n eiehandige poging – behalwe vir twee of drie tradisionele liedjies, is alles deur haarself gekomponeer en gesing. “Ek wou graag ‘n kinderalbum uitreik waardeur ek my blydskap in die Here met kinders, en sodoende ook met hulle ouers, kon deel.
Dis vir my ekstra spesiaal dat dit juis hierdie album is wat nou goue status bereik het. ’n CD gerig op kleiner kinders in Afrikaans, en boonop Chistelik, het ’n beperkte mark en dit maak die prestasie vir my soveel groter.”
Die liedjies het elkeen ’n aansteeklike en kindervriendelike aanslag wat sekerlik ’n groot bydrae maak tot die sukses van die album.
Met die verrassende reaksie op Jesus-liedjies, is ’n tweede album onlangs uitgereik – “My beste Jesus-liedjies 2” – alles ook oorspronklik deur Elizabeth geskryf.
“Ek is baie trots op my bydrae en nalatenskap van oor die 100 oorspronklike Afrikaanse kinderliedies. Baie mense kan bestaande liedjies oor en oor gebruik en opneem – maar om elke keer met iets splinternuuts te kan kom, is ’n talent wat ek koester en waarvoor ek die Here elke dag eer.”
Elizabeth tree gereeld by kerke en skole op met ligte- sowel as geestelike liedjies.



