Kinders staan tou vir biblioteek-voorreg
Die Chris van Niekerk skool het vroeër jare ook soos baie ander skole die voorreg van ’n biblioteek gehad. Met verloop van tyd het die biblioteek egter verouderd geraak en in onbruik verval. Die ruimte is vir alles behalwe “biblioteek” gebruik…die orkes oefen daar, werkswinkels, ensovoorts. Met dié het die skoolhoof, Erna Rademan, aan die …

Die Chris van Niekerk skool het vroeër jare ook soos baie ander skole die voorreg van ’n biblioteek gehad. Met verloop van tyd het die biblioteek egter verouderd geraak en in onbruik verval.
Die ruimte is vir alles behalwe “biblioteek” gebruik…die orkes oefen daar, werkswinkels, ensovoorts.
Met dié het die skoolhoof, Erna Rademan, aan die begin van die jaar die reuse taak om die biblioteek weer bruikbaar te maak, aan Trudie Steenkamp, Anriette Serfontein en Maria Mofokeng toevertrou.
Onder Trudie se leiding is daar vloere geskrop, afgestof, reggepak en georganiseer. Uiteindelik het die blye dag aangebreek toe die biblioteekdeure weer oopgemaak kon word.
Die kinders het in rye buite gestaan en Trudie en haar span kon net 10 op ’n slag hanteer. Die opgewonde gesiggies en blink oë het getuig dat dit nie saak maak dat die boeke stokoud is nie….hulle is toegelaat om self boeke te kies én om hulle huis toe te neem!
In die weke wat gevolg het, het meer en meer kinders daagliks biblioteek toe gestroom. ’n Welkome gesig vir enige skoolhoof en onderwyser.
Volgens Rademan is die doel om die bib- lioteek se inhoud te vernuwe en uit te brei, om ’n kultuur van lees onder die kinders te vestig, en om hulle te leer dat dit goed is om nuuskierig te wees.
“Ek wil graag sien dat daar elke dag groepe kinders in die biblioteek sit en saamwerk aan navorsingstake en projekte. Dit moet vir hulle ‘n lekker plek wees om te besoek.”
Mense wat kinderboeke, legkaarte of bordspeletjies het wat in onbruik geraak het, kan dit gerus aan die skool skenk.



