NewsNews

Eskom: Sakeplan nou voorkeur

Ngwathe burgemeester, Joey Mochela, se Spesiale Taakspan oor die Eskomkrisis, is verlede Woensdag ingelig dat Eskom steeds met Ngwathe oor dié munisipaliteit se enorme agterstallige Eskomskuld (tans ongeveer R685m) onderhandel. ‘n Sakeplan waarvolgens Eskom elektrisiteitsverspreiding in Ngwathe moontlik sal oorneem, geniet tans voorkeuraandag. “Die sakeplan sal vir ons wys of daar vir Ngwathe voordele in …

Ngwathe burgemeester, Joey Mochela, se Spesiale Taakspan oor die Eskomkrisis, is verlede Woensdag ingelig dat Eskom steeds met Ngwathe oor dié munisipaliteit se enorme agterstallige Eskomskuld (tans ongeveer R685m) onderhandel. ‘n Sakeplan waarvolgens Eskom elektrisiteitsverspreiding in Ngwathe moontlik sal oorneem, geniet tans voorkeuraandag. “Die sakeplan sal vir ons wys of daar vir Ngwathe voordele in só ’n oorname sal wees,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Hy sê die moontlike oorname vloei uit ’n besluit van die provinsie dat Eskom aktief betrokke raak as munisipale verspreider van elektrisiteit in twee Vrystaatse munisipaliteite, waaronder Ngwathe.
Schoonwinkel sê dat ’n  nuwe haalbare betalingsplan met Eskom tans geformuleer word. Hy, rdl. Phillip van der Merwe (VF+), en rdl. Thene (EFF) is opposisielede van die Taakspan, waarop ook vier senior ANC-raadslede, onder voorsitterskap van die burgemeester, dien.
Van der Merwe sê aan Gazette hy twyfel of Ngwathe binnekort sy elektrisiteitsverbruik maandeliks uit sy verkoopsinkomste sal kan dek. “Ngwathe verdien tans ongeveer R10m uit maandelikse verkope van elektrisiteit, maar koop krag van gemiddeld omtrent R14m per maand van Eskom,“ sê Van der Merwe.
“Intussen lyk dit of Eskom se vroeëre eis dat Ngwathe elke maand sy volle maandverbruik betaal, en ook agterstallige skuld delg, aan die afneem is.” Hy verwelkom die wending, en sê Eskom se eis was hoegenaamd nie haalbaar nie. Eskom self het Gazette se medianavraag terugverwys na die munisipaliteit wat nie teen druktyd kommentaar gelewer het nie.  Die Taakspan is verlede Woensdag deur mnr Bruce Kannemeyer, Ngwathe se nuwe munisipale bestuurder, meegedeel dat ’n opname toon dat minstens 29 000 munisipale meters (elektrisiteits- sowel as watermeters) tans nie gelees word nie. “Dit beteken rekeninge word op skattings baseer, wat dikwels heeltemal onakkuraat is,” sê Van der Merwe. “Volgens Kannemeyer word hierdie probleem nou aangespreek.” Dit is ook nou  moontlik om voorafbetaalde meters waarvoor daar nie onlangs krag aangekoop is nie te identifiseer. Sodoende kan moontlike kragdiefstal en ‘spookverkope’  makliker die hok geslaan word. Eskom se dreigement om krag twee keer per dag as strafmaatreël te onderbreek is blykbaar nie ’n onmiddellike vooruitsig nie. Onderbrekings sou Eskom nie help sy agterstallige skuld invorder nie, sakelui sou skade ly, en inwoners verontrief word, sê Schoonwinkel. Hy meen die medium-termyn oplossing is dat kragdiefstal voorkom word, agterstallige skuld ingesamel word, Ngwathe self sy eie kragverbruik verminder (tans brand straatligte op baie plekke dag en nag), en die groot getal gebreekte meters óf herstel óf vervang word.

Related Articles

Back to top button