NewsNews

Noordwes-Universiteit wil meertalige omgewing vestig

“Die Noordwes-Universiteit werk al meer as ‘n dekade om ‘n meertalige omgewing te vestig waarin plek gemaak word vir Afrikaans, Engels en die twee streektale wat in die omgewing gepraat word, naamlik Setswana en Sesotho.”

nwu

“Die Noordwes-Universiteit werk al meer as ‘n dekade om ‘n meertalige omgewing te vestig waarin plek gemaak word vir Afrikaans, Engels en die twee streektale wat in die omgewing gepraat word, naamlik Setswana en Sesotho.”
So sê prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, in reaksie op die voormalige visekanselier, dr. Theuns Eloff, se stelling dat Afrikaans by universiteite nog net agt jaar sal bestaan.
Beeld het Dinsdag berig dat Eloff by ’n konferensie van AfriForum en Solidariteit ’n donker toekoms vir Afrikaans by universiteite geskets het.
Hy het gesê tussen die universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Vrystaat Afrikaans nog een na vier jaar as onderrigtaal oor het.
Volgens Eloff is dit net by die NWU se Potchefstroomkampus waar Afrikaans nog vir vyf tot agt jaar sal bestaan. Hy het gesê prof. Kgwadi het ‘n sterk strategie vir sentralisering en wil Potchefstroom die hoofkampus maak en dat dit nie ’n Afrikaanse kampus moet wees nie.
Volgens hom is prof. Kgwadi deur die #FeesMustFall-betogings in die wiele gery, want hy moes Afrikaanse inskrywings kry wat klasgeld kan betaal, anders was die hele universiteit bankrot. In reaksie het prof. Kgwadi Dinsdagmiddag gesê die NWU het nou ‘n nuwe strategie en struktuur.
Dit behels ‘n meertalige eenheidsuniversiteit met agt fakulteite, met drie kampusse as plekke van aanbieding.
Die drie kampusse word as ‘n bate beskou en die NWU gaan aanhou om dit optimaal te benut.
Senior bestuurders soos adjunkvisekanseliers, uitvoerende dekane en adjunkdekane sal op al drie kampusse gesetel wees.
Hy sê ‘n kernbeginsel van die taalbeleid is om steeds ag te slaan op alle tersaaklike interne en eksterne realiteite. “Daarom moet ons van tyd tot tyd die praktiese implementering van die beleid aanpas.
“Ons koester al ons studente, van watter agtergrond ook al en probeer aan hulle ‘n verwelkomende atmosfeer in al ons fakulteite en op ons kampusse bied.
“Al drie ons kampusse is finansieel volhoubaar en dra by tot die voortgaande sukses van die universiteit. Ons wil dit so hou”, het Kgwadi gesê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button