BlogsEditor's noteOpinions

Beheerliggame het laaste sê

Die inligting wat in ‘n geheime dokument vervat is en die afgelope week rugbaar geword het toe dit aan die media uitgelek is, maak opslae in Gautengse skolekringe – veral ook in die vier Vaaldriehoekse skole wat glo daardeur geraak word. Hoewel die LUR van Onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lusufi, die geldigheid van die …

Die inligting wat in ‘n geheime dokument vervat is en die afgelope week rugbaar geword het toe dit aan die media uitgelek is, maak opslae in Gautengse skolekringe – veral ook in die vier Vaaldriehoekse skole wat glo daardeur geraak word.
Hoewel die LUR van Onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lusufi, die geldigheid van die dokument ontken, kan daar met redelike sekerheid aanvaar word dat die regering wel gaan probeer om die planne wat in die dokument uiteengesit is, deur te voer. Dit behels onder meer dat sekere Afrikaanse skole in Gauteng in parallelmedium skole omskep gaan word omdat daar glo ‘n tekort aan plek vir kinders wat in Engels onderrig wil word, in openbare skole is.
Maar waaroor gaan die bohaai nou eintlik en is dit werklik so erg?
‘n Parallelmediumskool impliseer dat onderrig ook in ‘n bykomende taal (Engels) moet geskied.
Vakke word dus in sowel Afrikaans as Engels aangebied.
Leerlinge wie se voorkeurtaal van onderrig bv. Engels is, word in een klas saamgegroepeer en in die taal van hul keuse onderrig.
Die Norme en Standaarde vir Taalbeleid in openbare skole stel dit duidelik dat daar ‘n minimum van 40 leerlinge in ‘n graad moet wees wat aandring op onderrig in ‘n spesifieke taal en ook ander hulpbronne beskikbaar moet wees voordat die skool se beheerliggaam ‘n wysiging van die skool se taalbeleid hoef te oorweeg.
Die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) maak in art 6 voorsiening dat skole se beheerliggame die taalbeleid van ‘n skool self kan bepaal. In hofsake waar skole die staat in die afgelope 10 jaar reeds oor hierdie aangeleentheid aangevat het, is ten gunste van die skole beslis dat die Staat nie met skoolbeheerliggame se verantwoordelikheid om self oor hul onderrigtaal te besluit, mag inmeng nie.
Indien ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid enkelmedium, byvoorbeeld Afrikaans is, behoort enige leerling wat onderrig in Afrikaans wil ontvang en die norme, waardes en etos van die skool aanvaar, welkom te wees om as leerling in te skryf, ongeag sy velkleur of huistaal.
Dit is natuurlik mits die skool voldoende klaskamers het om al die kinders in sy voedingsgebied te akkommodeer en die kind betyds vir die komende skooljaar ingeskryf is.
AfriForum het dit hierdie week beklemtoon dat alle leerlinge die reg tot gehalteonderrig in hulle moedertaal het, maar dié burgerregteorganisasie is bekommerd dat die geskiedenis al geleer het dat dubbelmediumskole gewoonlik mettertyd enkelmedium Engelse skole word en só word baie leerlinge dan van hul reg op moedertaalonderrig ontneem.
AfriForum meen ook die departement van onderwys gee net voor dat die taalbeleidsverandering ruimte vir meer leerlinge sal skep omdat baie van die skole wat geteiken word, eenvoudig nie plek vir nog leerlinge het nie. AfriForum meen dat die behoefte om bykomende leerlinge wat in Engels onderrig wil word by sulke skole te akkommodeer, net ’n verskoning is vir die departement se ideologiese agenda om Afrikaanse skole te vernietig.
Die oorlewing van Afrikaans in ons skole gaan baie afhang van ouerbetrokkenheid en ‘n eis dat kinders se grondwetlike reg om in hul eie moedertaal onderrig te word, gerespekteer word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button