NewsNews

Hoe die begroting jou sak raak

Lees hier wat skryf Hanlie Stander op Netwerk 24 hoe die begroting jou sak gaan raak

Lees hier wat skryf Hanlie Stander op Netwerk 24 hoe die begroting jou sak gaan raak

Heelwat huisgesinne gaan van 1 Maart af ’n groter deel van hul swaarverdiende inkomste aan Jan Taks moet oorhandig. Die 2017-’18-begroting bied nie veel genade nie – en waarsku ook oor ’n hele paar belastings wat oor die volgende jaar in werking gestel gaan word.

Belastingveranderinge geld van 1 Maart, wanneer die nuwe belastingjaar begin, maar die brandstofheffings word eers op 5 April verhoog.

 

if(typeof za24_DisplayAd != “undefined”) za24_DisplayAd(“300×250″,”2”);

1. Superbelasting

Die langverwagte superbelasting op welvarende Suid-Afrikaners is hier!

’n Nuwe kerf word vir inkomstebelasting geskep vir mense wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien. Op elke sent wat jy meer as dié bedrag verdien, gaan jy 45% vir Jan Taks teruggee.

Dit is meer as die 42% of 43% wat ontleders vooraf vermoed het, maar wees bly dis nie meer nie. Op ’n nuuskonferensie voor die begrotingsrede was Pravin Gordhan, minister van finansies, vol lof vir die ekonoom Tony Atkinson, wat ’n boonste belastingkoers van 65% voorgestaan het.

Die vorige hoogste koers, wat nou die naashoogste koers word, is 41%, dus is dit ’n stewige verhoging van 4 persentasiepunte in die hoogste inkomstebelastingkoers.

 

2. Inkomstebelasting

Elke jaar pas die tesourie inkomstebelastingkerwe aan sodat mense naby die bopunt van die kerf nie outomaties in ’n nuwe belastingkerf val en dus meer inkomstebelasting betaal nie.

Die afgelope paar jaar word die kerwe egter met minder as die inflasiekoers aangepas. Vanjaar word die kerf met net omtrent 1% aangepas.

Dit beteken as jy naby die bopunt van ’n belastingkerf verdien en vanjaar ’n verhoging van meer as 1% kry, gaan jy ’n groter persentasie van jou inkomste aan Jan Taks gee. As dit troos: Die hoër koers geld net die bedrag wat jy meer verdien as die afsnypunt.

Nog ’n troos is dat die kortings effens verhoog – die stygings is egter ook minder as die inflasiekoers.

Die primêre korting (vir mense jonger as 65) styg van R13 500 tot R13 635; die sekondêre korting (mense van 65-74 jaar oud) van R7 407 tot R7 479 en die tersiêre korting (vir mense van 75 en ouer) van R2 466 tot R2 493.

Die belastingdrempel verhoog ook effens. Mense jonger as 65 wat minder as R75 750 per jaar verdien, betaal voortaan geen belasting nie. (In 2016 was die perk R75 000.)

Die belastingdrempel vir mense van 65-74 jaar styg van R116 150 tot R117 300 en vir mense van 75 en ouer styg dit van R129 850 tot R131 150.

 

3. Mediese krediete

Die belastingkrediet vir mense met private mediese fondse styg baie naby aan die inflasiekoers – maar nie heeltemal nie. Die belastingkrediet vir die eerste twee begunstigdes styg van R286 tot R303 per maand (net minder as 6%), en vir alle ander begunstigdes styg die krediet van R192 tot R204 per maand (6,25%).

Mense met mediese fondse sal dalk oor ’n paar jaar meer belasting betaal.

Dit is omdat Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) moontlik gefinansier gaan word, of minstens deels gefinansier gaan word, deur die belastingkrediete te verminder wat mense tans op hul mediesefondspremies kry.

Dit tree nie vanjaar in werking nie, maar is iets om in ag te neem as jy vooruit wil beplan.

 

4. Sondebelastings

Die sogenaamde sondebelastings – aksyns op drank en sigarette – styg met heelwat meer as die inflasiekoers. Die persentasies wissel van 6,1% op gefortifiseerde wyn tot 9,5% op sigare en pyptabak.

Verbruikers gaan só opdok vir van hul voorliefdes:

  • 12c meer vir ’n blikkie van 340 ml bier of sider
  • 30c meer vir ’n liter wyn
  • R1,03 meer vir ’n liter vonkelwyn
  • R4,43 meer vir ’n 750 ml-bottel spiritualieë (soos wodka en whisky)
  • R1,06 meer vir ’n pakkie van 20 sigarette

  

5. Brandstofheffings

Die begroting gaan motoriste en vervoermaatskappye by die vulstasie seermaak. Van 5 April styg die algemene brandstofheffing op petrol en diesel met 30c per liter. Dit is dieselfde styging as in 2016.

Die Padongelukfondsheffing, wat nie in 2016 verhoog is nie, word met 9c per liter verhoog.

Gordhan het op ’n nuuskonferensie gesê hulle werk saam met die Padongelukfonds om die fonds, wat in ’n geldelike verknorsing is, se finansies reg te ruk.

Dié stygings word afgetrek of bygelas by die maandelikse verandering in die brandstofpryse wat deur internasionale oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers bepaal word.

Die begrotingsrede waarsku dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 2018 af op brandstof betaal sal word. Brandstof was tot dusver vrygeskeld van BTW.

As versoeter kan die algemene brandstofheffing dalk bevries of selfs verminder word.

   

6. Staatstoelaes

Behoeftige bejaardes kry R90 per maand meer, wat die toelae op R1 600 vir mense van 60 en R1 620 vir mense van 75 en ouer te staan bring.

Die toelae vir gestremdes styg met R90 tot R1 600 per maand.

Die pleegsorgtoelae styg met R30 tot R920 per maand.

Die kindersorgtoelae styg met R20 tot R380 per maand.

 

7. Dividendbelasting

Mense met aandele of effektetrustfondse sal glad nie ingenome wees met die minister van finansies nie. Die terughoudingsbelasting op dividende word van 15% tot 20% verhoog.

Die tesourie beoog ook om belasting in te stel op aandeleterugkoopskemas, maar dit is nog nie in dié begroting geopper nie.

Dié hoër belastingkoers maak dalk ’n selfs sterker saak uit vir belastingvriendelike beleggings soos belastingvrye spaarrekeninge en uittreeannuïteite – die dividende, rente of ander opbrengs in dié produkte word nie belas nie!

   

8. Belastingvrye spaarrekeninge

Jy mag nou jaarliks R33 000 in sogenaamde belastingvrye spaarrekeninge belê. Dit was tot en met Februarie vanjaar R30 000 per jaar. Die totale jaarlikse limiet bly egter R500 000 – jy kan dalk nou net gouer daar kom en meer opbrengs ophoop in aanloop tot die algehele limiet.

Onthou dat belastingvrye spaarrekeninge verwys na ’n groot verskeidenheid beleggingsprodukte wat banke en batebestuursfirmas aanbied – bankrekeninge én effektetrustfondse ingesluit.

   

9. Hereregte

Dit word vir jong mense effens makliker om jou voet in die deur van die huismark te kry. Geen hereregte is betaalbaar op eiendom tot R900 000 as jy ná 1 Maart koop nie. Die perk was tot op hede R750 000.

Die hoogste koers op hereregte, vir eiendom duurder as R10 miljoen, bly 13%.

   

10. Jou soettand gestraf

Die voorgenome suikerbelasting word nie nou dadelik ingestel nie, maar dit gaan deur die loop van die jaar jou sak ruk as jy van koeldrank hou.

Die tesourie kon nie daarin slaag om die regulasies oor suikerbelasting te finaliseer nie, maar waarsku dat dit nog in dié boekjaar in werking gestel word.

Meer nog: Nie net koeldrank waarby suiker bygevoeg word, gaan belas word nie. Drankies met natuurlike suikers, soos vrugtesap, gaan ook belas word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button