NewsNews

Mozart Requiem in Vredefort uitgevoer

Op Saterdagaand 1 April word die Ave verum corpus en die Requiem Mis in d mineur van Mozart in die NG Kerk Vredefort uitgevoer. Die Requiem van Mozart is die laaste komposisie van dié komponis en een waarom ’n menigte onopgeloste geheime en bespiegelinge verweef is.

Op Saterdagaand 1 April word die Ave verum corpus en die Requiem Mis in d mineur van Mozart in die NG Kerk Vredefort uitgevoer. Die Requiem van Mozart is die laaste komposisie van dié komponis en een waarom ’n menigte onopgeloste geheime en bespiegelinge verweef is.
Dit was ’n opdragwerk, maar die opdraggewer wou anoniem bly en het ’n  boodskapper na Mozart gestuur om die besonderhede oor te dra. ’n Requiem is ’n mis wat tydens die erediens voor die begrafnis uitgevoer word. Die opdraggewer, graaf Franz von Walsegg, wou die musiek tydens die begrafnis van sy vrou uitvoer, maar homself as komponis voordoen. Terwyl Mozart aan die Requiem werk, word hy egter ernstig siek, en ten tye van sy dood op 5 Desember 1791 het hy minder as twee derdes van die werk voltooi.
Om nie die vooruitbetaling en die tweede paaiement te verloor nie, stel sy vrou, Cons-tanze, verskeie ander komponiste aan om dit klaar te maak. Met hoogs interessante musikale speurwerk kon navorsers die bydraes van minstens vier komponiste, wat hierby betrokke was, vasstel. Franz Xaver Süßmayer, ’n  student van Mozart, het die grootste deel van die taak afgehandel en ’n werk nagelaat wat tot vandag toe bestand het. Die musiekpartituur is aan Walsegg oorhandig, wat dit eers drie jaar na sy vrou se dood kon uitvoer.
In die meer as 200 jaar sedert die ontstaan van die Requiem, het verskeie ander komponiste ook probeer om die werk aan die hand van Mozart se oorspronklike sketse te vervolledig, veral ook nadat sekere voorheen onbekende fragmente opgeduik het. Hierdie pogings kon Süßmayer se weergawe egter nie verdring nie. Süßmayer, wat baie nou voor Mozart se dood met hom saamgewerk het, het sekerlik eerstehandse inligting gehad, wat hom in staat gestel het om die komponis se oorspronklike konsep getrouer te kon weergee as wat dit vandag moontlik is.
Die Requiem word gewoonlik aan die einde van die kerkjaar in die treurmaand November uitgevoer – voor die viering van Jesus se geboorte in die Advent-tyd – of dan voor Paasfees as simboliese dodemis vir die gestorwe Jesus. Wat die komende uitvoerings (in Johannesburg, Pretoria en Vredefort) besonders maak, is dat die werk op die oorspronklike instrumente, soos dit in Mozart se tyd gebruiklik was, uitgevoer sal word, en ook met ’n  klein kamerkoor, soos dit in die destydse omstandighede sou gebeur.
Die konserte word deur die Koepel Kunstesentrum, wat sedert 2008 kursusse en projekte in Vroeë Musiek (oftewel histories ingeligte uitvoeringspraktyk) aanbied, in samewerking met St John’s College in Johannesburg aangebied. Die bekende sangsoliste Linelle Engelbrecht, Elizabeth Lombard, Nicholas Nicolaidis en Aubrey Lodewyk werk aan die uitvoerings mee, wat deur Ben Oosthuizen van St. John’s College gedirigeer word. Antoinette Lohmann, bekende barokvioliste van Amsterdam, voer die orkes aan.
Slegs twee verdere oorsese instrumentaliste, die klarinettis Teddy Ezra van Switserland, en die fagottis Wolfgang Mücke van Duitsland, is vir die samestelling van die orkes nodig, wat wys hoe ver Vroeë Musiek in Suid-Afrika reeds ontwikkel het. Die res van die strykers en die blasers – ‘n klarinettis, fagottis, drie tromboonspelers, en twee trompetspelers – kom almal uit die geledere van Suid-Afrikaanse musici wat hulle in die afgelope jare intensief met historiese uitvoeringspraktyk bemoei het.
Kaartjies vir al drie uitvoerings sal by die deur gekoop kan word.
Meer inligting later in die pers en op radio, asook by Gerhard Benadé by 083 280 9784, gerhard@deelfontein.co.za , en op die webwerf www.deelfontein.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button