“MRK moet haatspraak teen Joost ondersoek” – VF+
Die Menseregtekommissie (MRK) het die onderneming gegee dat hy voortaan almal oor dieselfde kam sal skeer wat hulle op sosiale media aan haatspraak skuldig maak, en die VF Plus sal die MRK hieraan bind in sy ondersoek na uitlatings wat ʼn man op Facebook oor Joost van der Westhuizen en wittes in die algemeen gemaak…

Die Menseregtekommissie (MRK) het die onderneming gegee dat hy voortaan almal oor dieselfde kam sal skeer wat hulle op sosiale media aan haatspraak skuldig maak, en die VF Plus sal die MRK hieraan bind in sy ondersoek na uitlatings wat ʼn man op Facebook oor Joost van der Westhuizen en wittes in die algemeen gemaak het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor menseregte.
Hy sê nadat die VF Plus met die MRK gebots het oor die feit dat die indruk geskep is dat dié liggaam selektief optree en net wittes ondersoek en vervolg oor haatspraak, het die MRK die onderneming gegee om alle persone wat haatspraak pleeg – veral op sosiale media, dieselfde te behandel.
In die jongste voorval het ’n herrie losgebars ná inskrywing van ene Riaan Lucas wat gelui het “Joost is vrek”, asook ʼn foto met die woorde “Me when I hear a white man has died. RIP Joost”.
“Die bedoeling is duidelik dat die persoon bly is wanneer ʼn wit persoon sterf. Dit is skokkend, en is veral tragies omdat dit gekoppel word aan die afsterwe van ʼn persoon wat vir baie ʼn nasionale sportheld is.
“Die man moet pa staan vir hierdie onaanvaarbare uitsprake. Die VF Plus sal sy klag by dié van Solidariteit voeg en sal seker maak dat die saak deeglik ondersoek word en nie soos baie ander net stilweg verdwyn nie,” sê adv. Alberts.



