
Bertie Jacobs
Dit is ’n opskop van kleur en klank, van pret en plesier.
Dit gaan oor liefdadigheid, dit gaan oor omgee.
Dit is Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se JOOL – Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid – en dit skop oudergewoonte die jaar op skouspelagtige wyse af.
Op 4 Februarie word ’n progressie vlotte deur sowat 300 studente deur die strate van Potchefstroom begelei en daar word vir ’n vale blikgeskud.

Elke jaar word meer as R1 miljoen deur JOOL vir tientalle begunstigdes ingesamel wat ouetehuise, welwillendheidsorganisasies, individue en hospitale insluit.
Hierdie geld word deur SJGD (Studente JOOL-Gemeenskapsdiens) uitbetaal en, behalwe vir hierdie uitbetalings, word amper 100 projekte deur SJGD onderhou en bestuur.
Donderdagaand 2 Februarie op die JOOL-plaas, van 18:00 af, speel Taking Autumn, Desmond and the Tutus, Karen Zoid, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar. Vrydagaand is dit Majo Rademeyer, Joshua na die Reën, Spoegwolf, AKING, The Parlotones en DJ Naves & SPHEctacula.

Daar sal ook Vrydagaand 20:50, as die weer dit toelaat, ’n vuurwerkvertoning wees wat beloof om ieder en elk se asems weg te slaan. Dit is JOOL se manier om vir die publiek hul dank vir hul deurlopende ondersteuning te bewys.
“Ek wil namens ons almal van SJGD en JOOL graag die publiek bedank vir hul deurgaanse ondersteuning. Dit is danksy julle dat hierdie organisasie vir etlike dekades kan voortgaan om hulle wat behoeftig is te help,” het Janine Möller, SJGD-voorsitter, gesê.
Kaartjies is teen R120 per aand by die JOOL-plaas se hekke beskikbaar.
Die vlotoptog begin Saterdagoggend omstreeks 08:00 vanaf die JOOLplaas.




