NewsNews

PAWS bekommerd oor vuurwerke by JOOL

PAWS het in ’n skrywe aan die Studenteraad (SR) van die Puk hul kommer oor die vuurwerkvertoning wat tydens JOOL beplan word, uitgespreek.

paws vs jool

PAWS het in ’n skrywe aan die Studenteraad (SR) van die Puk hul kommer oor die vuurwerkvertoning wat tydens JOOL beplan word, uitgespreek.
Volgens Andries Venter, bestuurder van PAWS, is hulle bekommerd dat die vuurwerke ‘n baie negatiewe uitwerking op diere in die omgewing gaan hê, soos wat Oujaarsaand gesien is.
Meer as 50 diere moes dié aand deur PAWS ingeneem word. Een so ‘n dier waaroor die Herald berig het, het vermoedelik drie dae in ’n drein vasgesit.
Venter het onder meer in die skrywe na ’n uitspraak van die hooggeregshof verwys waar die DBV daarin geslaag het om vuurwerke wat deur die Ekurhuleni Munisipaliteit gehou sou word, te stop. Volgens Venter skep so ‘n uitspraak ’n presedent wat as genoegsame gronde beskou kan word om die vuurwerke te heroorweeg.
Venter wou by die SR weet of hulle genoegsame reëlings met inwoners van die woongebied getref het om die skok op diere te verminder, of daar begroot is vir die behandeling van beseerde diere, of selfs siviele eise wat deur mense ingestel kan word wat deur verskrikte diere gebyt word, of motorongelukke wat kan plaasvind deur verskrikte diere wat in die pad hardloop.
“Ons vra dus dat die SR en JOOL-komitee die aangeleentheid sterk heroorweeg,” lui die skrywe van Venter.
Volgens Paul Maritz, SR-voorsitter, voldoen JOOL aan al die vereistes wat deur die polisie aan hulle gestel is. Hulle het ook berigte in die plaaslike media geplaas wat inwoners voorberei om hulle planne so te maak dat enige negatiewe uitwerking op hul diere vermy kan word.
Hy sê wat Ekurhuleni betref, was een van die hoofredes waarom die lisensie nie uitgereik is nie, omdat die vertoning te naby aan die lughawe sou plaasvind.
“Ons beplan al sedert Mei aan ’n JOOL wat uitsonderlik gaan wees. Om twee weke voor die tyd ‘n klagte oor ‘n kardinale gedeelte van JOOL aanhangig te maak, is effens te laat. Ons het reeds ’n belegging aangegaan wat gaan verseker dat ons in 2018 selfs meer geld by die hekke maak, wat nog meer voordele vir Potchefstroom sal hê,” het Maritz gesê.
Venter sê as een van die grootste instansies in die stad sal hulle graag wil sien dat JOOL en die NWU verantwoordelik optree. “Ons val JOOL glad nie aan nie, die vuurwerke is net ‘n groot bekommernis. Ons hanteer die massas verlore, bang en beseerde diere wat met vuurwerke gepaard gaan.”
Maritz sê hulle besef dat al die inwoners nie altyd gaande is oor JOOL nie, maar die geld wat JOOL insamel befonds 87 liefdadigheidsprojekte, verskeie van hulle ook vir diere. “Ek stel voor dat PAWS reeds in Meimaand ‘n gesprek met myself en die nuwe JOOL SR-lid van stapel stuur sodat ons die klagtes in ag kan neem alvorens ons besluite en beleggings maak.”
Die versoek van PAWS om die vuurwerkvertoning tydens JOOL te stop, is deur die SR van die hand gewys.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button