NewsNews

Duisende eerstejaars begin vanjaar hul studies op die Puk

Saterdag het duisende eerstejaars deur die hekke van die NWU se Potchefstroomkampus gestroom om hul universiteitsloopbaan te begin. ‘n Woordvoerder van die NWU, Louis Jacobs, sê die universiteit het plek vir 8 894 eerstejaars, maar dat daar tot nou toe reeds net oor die 17 000 eerstejaars voorlopige toelating gekry het.

NWU

“Die groter getal is gebaseer op data van vorige jare, wat daarop dui dat ‘n groot aantal eerstejaars nie werklik aanmeld vir registrasie nie weens verskeie redes, onder ander punte wat nie goed genoeg is vir ‘n bepaalde kursus nie, hulle nie vrystelling gekry het met die matriekeksamen nie en finansiële of ander redes,” sê Jacobs.
Volgens hom sal die werklike syfers van die eerstejaars vir 2017 eers aan die einde van Januarie vasgestel kan word, wanneer al die eerstejaars geregistreer het.
“Vir die NWU as geheel het ons nagenoeg drie keer soveel aansoeke ontvang as wat voorlopig goedgekeur is. Dit gaan vir ons eerder oor die kwaliteit van die studente wat aansoek doen as die getalle.”
Volgens Jacobs moes baie studente uiteraard weggewys word. Uitsonderings sal net gemaak word vir voornemende studente wat baie goed presteer het in die matriekeksamen of in uitsonderlike gevalle waar die getalle in bepaalde studierigtings nog nie behaal is nie.
Eerstejaars gaan Saterdag op die PUK-kampus bymekaar kom waar hulle dan, indien hulle nog nie reeds het nie, ook by ‘n koshuis kan aansluit. Na die ontmoeting met hul ouers sal die R&O (Registrasie en Oriëntering) program dan begin.
Hierdie program duur vir drie weke, waarvan die laaste week bekend staan as JOOL.
JOOL (Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid) is beslis ‘n hoogtepunt in elke student se universiteitslewe. Op die laaste dag van JOOL word ‘n vlotoptog in die strate van Potchefstroom gehou waar studente geld gaan insamel vir liefdadigheid. Die Donderdag en Vrydagaand van JOOL is daar ook musiekoptredes en ‘n vuurwerkvertoning.
Die Donderdagaand tree Taking Autumn, Desmond and the Tutus, Karen Zoid, Francois van Coke, Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties op. Die Vrydagaand tree Majo Rademeyer, Josua na die Reën, Spoegwolf, aKING, The Parlotones en DJ Naves & SPHEctacula op.
Die vuurwerkvertoning vind Vrydagaand om 20:50, afhangend van die weer, plaas.
Kaartjies vir JOOL is beskikbaar by die hekke teen R120 per aand of word van 23 Januarie tot 1 Februarie by die amfiteater op kampus verkoop.


Related Articles

Back to top button