NewsNews

‘As jy polisie toe gaan, maak ek jou dood’ – inbreker

“As jy polisie toe gaan dan maak ek jou dood!” So het ’n inbreker vir ’n student gesê terwyl hy haar in haar huis in die dam woongebied aangehou het.

“As jy polisie toe gaan dan maak ek jou dood!” So het ’n inbreker vir ’n student gesê terwyl hy haar in haar huis in die dam woongebied aangehou het.

Die student, wat anoniem wil bly omdat sy vrees vir haar lewe, het met die Herald oor dié nagmerrie gepraat wat op 13 Mei plaasgevind het. “Ek los altyd my agterdeur oop sodat my hondjies kan in- en uitkom soos hulle wil. Ek het gehoor een hondjie blaf, maar omdat sy baie blaf, het ek my nie veel daaraan gesteur nie,” vertel sy.

Volgens die student het die man by die agterdeur ingekom. “Ek het gelê en TV kyk toe ek hom skielik daar sien staan. Hy het ‘n masker opgehad en was met ’n skroewedraaier gewapen. Ek kon dit nie glo nie, ek het vir hom gevra wat doen jy?” het sy steeds verstom oor die voorval vertel.
Die man het op haar afgestorm. Sy kon dit regkry om die skroewedraaier uit sy hand te skop. “Hy het my begin wurg en ek het verwag dat hy my gaan doodmaak.”

Terwyl sy om haar lewe geveg het, is ’n tafel omgestamp en sy kon ’n mes in die hande kry.

“Ek kon net nie die man steek nie. Ons het begin baklei oor die mes, maar ek het besef ek gaan verloor en het die mes weggegooi. Ek het net my hande uitgesteek om te wys ek gee op. Ek het vir hom gesê ek sal vir hom enige iets gee as hy my net nie seermaak nie,” vertel sy. Die man het haar vasgemaak en geld gevra. Sy het nie kontant gehad nie en vir hom haar selfoon, skootrekenaar en bankkaart gegee.“Hy het sy vingers in my mond gedruk en my aan die kaak beetgekry. Hy het my heeltyd aan my mond rondgelei op soek na geld.

Ek het vir hom gevra om liewer net iets om my mond te sit,” het sy vertel. Die man het later gevlug en sy kon die paniekknoppie druk. Mooirivier Beskerming en ER24 was daarna baie gou op die toneel om te help. “Ek wou eers nie ’n beskrywing gee van hoe hy lyk nie, want hy het gesê hy gaan terugkom om my dood te maak as ek met die polisie praat. Een van die personeellede van Mooirivier Beskerming het my moed ingepraat.” Die polisie het die verdagte later op die Bult in hegtenis geneem terwyl hy besig was om geld te probeer trek met haar kaart. “Gelukkig het ek al my goed teruggekry. Mooirivier Beskerming het heeldag by my gebly en my polisie toe geneem om ’n verklaring af te lê,” het sy vertel.

Dit het later aan die lig gekom dat die verdagte deel was van ’n span verwers wat vroeër by die huis gewerk het.

Related Articles

Back to top button