NewsNews

Spiere bult vir Emunah Foundation

Nagenoeg R11 000 is die afgelope naweek ingesamel vir die Emunah Foundation met ’n fondsinsamelingsprojek wat Saterdag by Dome Fitness Centre in Parys aangebied is.

Nagenoeg R11 000 is die afgelope naweek  ingesamel vir die Emunah Foundation met ’n   fondsinsamelingsprojek wat Saterdag by Dome Fitness Centre in Parys aangebied is.
Altesaam 40 mans en dames het hul spiere kom bult om die bande wat onderskeidelik 275kg vir die mans, en 90kg vir die dames geweeg het, op te tel en om te gooi (tyre flip)..
Uiteindelik kon Jannie van Onselen wegstap as die manswenner wat 27 keer die band kon optel en omgooi, terwyl Caroline van der Linde gewys het dat die jongelinge geen tree hoef terug te staan nie. Caroline wat nog ’n  skolier is, was die wenner van die dames met 36 “tyre flips” op haar kerfstof.
Mense het geesdriftig die deelnemers aangemoedig terwyl die kinders op die springkastele kon baljaar, en die geur van gebraaide wors swaar in die lug gehang het.
Dankie aan DFC vir die mooi inisiatief, elke deelnemer, die publiek vir die ondersteuning, Kwaggabees wat gesorg het vir musiek, die drie sakemanne wat ’n  R1 op die spel gesit het vir elke “tyre flip” sowel as ander individue en sakelui wat ’n  bydrae gemaak het.
Die egpaar Colin en Sonja Viljoen het in Julie 2015 die Emunah Foundation in Parys gestig as nie-winsgewende maatskappy. Die afgelope jaar het hierdie egpaar met hul toewyding om verwaarloosde, weggegooide en mishandelde kinders te help, reeds ’n verskil in nege jong lewens gemaak. Hulle werk nou saam met die maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie, asook die SAPD en die hospitaal.
Die Viljoens het die groot nood raakgesien van slagoffers van huishoudelike geweld en ander omstandighede wat te midde van die trauma geen veilige heenkome het, dikwels juis na-ure en oor naweke.
Deel van Emunah Foundation is ook ’n Wall of Life-projek om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word op plekke soos vullishope, in toilette ensovoorts, te help voorkom. Die Wall of Life is in Schilbachstraat 81.
Die Wall of Life-projek is aanvanklik deur ’n  polisielid,  wyle Michelle Stephenson van Vanderbijlpark begin met die Jessica’s Wall of Life projek. Sy is in 2006 as polisielid uitgeroep na ’n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ’n baba wat weggegooi is op ’n vullishoop.
Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal en toegesien dat sy met waardigheid begrawe is soos haar eie kind. Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ’n aborsie of om weggegooi te word deur ’n ma wat moontlik voel dat sy geen ander opsie het nie.
Twee jaar later, in 2008, is Jessica’s Wall of Life in Vanderbijlpark opgerig en twee jaar later het sy die eerste oproep van die hospitaal gekry van ’n baba wat hier geplaas is.
Die Wall of Life is ’n “kluis” met ’n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ’n alarm af by die hospitaal of plek waar die muur is, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultra-violet ligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba.
Die baba word dan deur versorgers soos die Viljoens versorg totdat ’n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg.
Emunah Foundation is suiwer afhanklik van die goedhartige skenkings en bydraes van die gemeenskap.

Foto 1: Niemand kon kers vashou by Jannie van Onselen wat die 275kg buiteband 27 keer kon optel en omgooi. Foto 2: Caroline van der Linde wat self nog ’n  skolier is, het onder die dames skoonskip gemaak met die 36 keer wat sy die buiteband kon optel en omgooi. Foto 3: Selfs skoliere het nie teruggestaan vir die uitdaging soos wat Thian van Zyl hier bewys het.
Foto 3: Niemand kon kers vashou by Jannie van Onselen wat die 275kg buiteband 27 keer kon optel en omgooi. Foto 2: Caroline van der Linde wat self nog ’n skolier is, het onder die dames skoonskip gemaak met die 36 keer wat sy die buiteband kon optel en omgooi. Foto 3: Thian van Zyl.

FB_IMG_1481487096501 DSC_2366

Related Articles

Back to top button