Editor's choiceNewsNews

Nog geen ooreenkoms sê Eskom

Eskom het teen druktyd aan Gazette bevestig dat nog geen betalingsooreenkoms met Ngwathe bereik kon word vir sy agterstallige skuld nie, en dat daar steeds met die munisipaliteit onderhandel word.

Eskom het teen druktyd aan Gazette bevestig dat nog geen betalingsooreenkoms met Ngwathe bereik kon word vir sy agterstallige skuld nie, en dat daar steeds met die munisipaliteit onderhandel word.

Dit terwyl daar nou nog net ’n skamele twee weke oor is voordat inwoners van Ngwathe sal weet of Eskom sy dreigement gaan uitvoer om vanaf 5 Junie daagliks kragtoevoer na al die Ngwathe dorpe te sny vir 8 ure elke weeksdag, en 6 ure daagliks oor naweke. Intussen teken inwoners van Ngwathe flink ’n petisie waarin Nersa (die nasionale energiereguleerder) versoek word om dié munisipaliteit se lisensie om elektrisiteit te verkoop te kanselleer.

Die petisie is opgestel deur mnr. Saal de Jager, ’n sakeman van Parys. Handtekeninge is van Parys en Tumahole, sowel as in Vredefort, Mokwallo, Koppies en Kwakwatsi gekry. Die petisie word ondersteun deur Parys se Ontwikkelingsforum, asook deur Ngwathe se DA-raadslede.

“Ngwathe kan onmoontlik sy agterstallige skuld aan Eskom (wat nou ongeveer R330m beloop) afbetaal terwyl hy ook sy maandelikse verbruik moet betaal,” het De Jager verlede week aan Gazette gesê. Volgens hom is Ngwathe as lisensiehouer ook verplig om die netwerk in stand te hou, met ander woorde geroeste pale te vervang of te herstel, transformators te diens, straatligte te vervang, dagligskakelaars te onderhou en voldoende materiaal te hê vir noodgevalle.

“Duisense meters is gebrug, en daar is duisende onwettige koppelings.” Hy sê daar is ook gerugte dat kragkoepons onwettig verkoop word vir R50 en dan kry die verbruiker 200 eenhede krag. Die petisie vra Nersa om, in die lig van die bewese onvermoë van Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit om sy elektriese infrastruktuur te onderhou en kragverbruikersgelde in te vorder en aan Eskom oor te betaal, Ngwathe se lisensie om elektrisiteit te verkoop te kanselleer. Die petisie kan geteken word by verskeie sakeondernemings in die dorp sowel as by die Parys Info-kantoor in Waterstraat.

DA-raadslid Shirley Vermaak sê talle mense het verlede Saterdag by hul inligtingstafel in Parys die petisie kom teken. Die DA meen elektrisiteitsverspreiding moet nou oorgerlaat word aan Eskom self, of aan ’n privaat firma. Die petisie kan onderteken word by enige DA-raadslid (hul gegewens verskyn vandag in ‘n advertensie elders in Gazette), of weer by ‘n DA-tafel in Parys hierdie naweek.

Die DA skakel ook op parlementêre vlak met sekere ministers, Eskom en Nersa oor die enorme munisipale skuld van Ngwathe en drie ander Vrystaase munisipaliteite aan Eskom. “’n Blywende oplossing is nodig,” sê David Ross LP, die DA se skadu-adjunkminister van Finansies, “ sonder om die regte van betalende inwoners te misken.”
Intussen is daar vandeesweek ingegryp by nog twee Noordwes Munisipaliteite, die Tswaing en Ventersdorpse munisipaliteite. Dit beteken dat die provinsiale regering nou reeds in die uitvoerende funksies van sewe munisipaliteite in die Noordwes provinsie ingegryp het – die hoogste aantal in enige provinsie.

Die redes vir die ingryping in 30% van Noordwes se plaaslike owerhede word aangedui as politieke onstabiliteit en gebrek aan leierskap, gebrekkige dienslewering en onreëlmatighede in die munisipaliteite se administrasie.

Related Articles

Back to top button