NewsNews

Nuwe musiekvideo deur Jak de Priester vir HOENER MET DIE ROOI SKOENE!

Bekende Afrikaanse sanger, skrywer en TV-persoonlikheid, Jak de Priester, het die temalied vir die nuwe Koos Roets film, Hoener Met Die Rooi Skoene, geskryf en opgeneem en die musiekvideo vir hierdie aansteeklike liedjie is pas hierdie naweek bekendgestel!

Jak 4

Die video is vervaardig deur Jay Loots en sy span by Fathom Media.Jak se loopbaan het in 2003 begin, nadat hy die ATKV Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album getiteld, Sally Williams Nougat, op te neem. 13 Jaar, 8 albums, 1 digbundel, ’n koffietafel-woordkunsboek en verskeie verhoogproduksies later, is Jak se loopbaan steeds besig om te groei.

Jak vertel: “Dit is vir my baie lekker en ’n groot eer om betrokke te wees by die skryf van die temaliedjie vir Koos Roets se film. Ek het lanklaas iets vir TV of ’n fliek geskryf, so ek was baie opgewonde toe Alishia my kontak om te hoor of ek betrokke wou wees. Dit was ’n uitdaging, omdat ek nog nie die film gesien het nie, en die liedjie moes skryf met slegs die mediavrystelling en rowwe weergawe van die lokprent tot my beskikking. Ek het wel dadelik besef dat dit so ’n bietjie van ’n vyftigs-gevoel moes hê. Die feit dat hierdie ’n riller-komedie is, het my dadelik laat voel dat dit meer lewendig moet wees en die titel van die fliek is ook dadelik ’n liriek wat lekker op die oor val. Ek hoop dit doen eer aan die fliek self en vertel ’n lekker storie wat mense opgewonde gaan maak om die fliek te gaan kyk.”

 Hoener Met Die Rooi Skoene, is ’n riller-komedie deur die bekende filmmaker, Koos Roets, wat kykers gaan laat regopsit, ril en skaterlag.

“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag”, sê Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl, vertolk.

Gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword is ook te sien in Hoener Met Die Rooi Skoene, wat op 27 Januarie 2017 landswyd vrygestel en versprei word deur Ster-Kinekor Entertainment.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button