NewsNews

Net ’n kwart van stad se ‘oë’ werk nog

Met die feestyd op ons, ’n tyd waarin die polisie mense waarsku dat misdaad toeneem, sou dit gerusstellend wees om te weet dat daar 24 uur per dag oë op plekke is waar die meeste misdaad voorkom.

police,saps

Illustration photo

Met die feestyd op ons, ’n tyd waarin die polisie mense waarsku dat misdaad toeneem, sou dit gerusstellend wees om te weet dat daar 24 uur per dag oë op plekke is waar die meeste misdaad voorkom.
Dit was die plan toe die Dr. Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit verlede jaar ‘n tender aan ‘n sekuriteitsonderneming toegeken het. ’n Deel van die kontrak was die installering en monitering van kringtelevisiekameras by areas waar daar ‘n hoë voorkoms van misdaad is.
Die idee agter die inisiatief is dat daar in verskillende dorpe in die distrik, insluitend Potchefstroom, ‘n 24 uur monitering is. Die sekuriteitsonderneming kan, deur die kameras te monitor, dadelik self reageer en ook die polisie in kennis stel om dadelik te reageer na ’n misdaad wat besig is om plaas te vind.
Die kontrak sluit egter nie die onderhoud van die kameras en toerusting in nie.
Dit is waar die probleem vir Potchefstroom begin het. Weerlig het verlede jaar die skakel tussen die kameras en die beheerkamer getref. Die sekuriteitsonderneming het aan die einde van Oktober 2015 ‘n kwotasie aan die distriksmunisipaliteit gestuur vir die vervanging daarvan. Dit is tot nou toe nog nie herstel of vervang nie.
Malan le Roux, voorsitter van die Potchefstroom Gemeenskap Polisiëringsforum, sê hy het die situasie opgevolg toe hy onlangs as voorsitter aangewys is. Volgens hom het die distriksmunisipaliteit aanvanklik gesê hulle het nie geld om die skakel te vervang nie, daarom wou hulle die ongeveer R40 000 van die versekering eis. Die amptenare het vir hom gesê dat hulle ook nie die kwotasie ontvang het.
“Ek het egter ’n bewys dat die sekuriteitsonderneming wel die kwotasie vir hulle gestuur het en ek het weer ‘n kwotasie in September vanjaar gestuur,” het Le Roux gesê. Die amptenaar het aan Le Roux bevestig dat hulle nog elke maand die maatskappy betaal, maar dat hy nie mag weet wat die maandelikse fooi is nie.
Die tender wat R28 738 960 oor drie jaar beloop, kos die hele distrik, wat Potchefstroom insluit, in die omgewing van R800 000 per maand.
Slegs 25% van die kameras in Potchefstroom is tans in ’n werkende toestand.
Die Herald het herhaaldelik onsuksesvol probeer om die munisipale bestuurder van die Dr. Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit vir kommentaar te kontak.

Related Articles

Back to top button