Entertainment

Sneeukoningin 2 gaan oud en jonk betower

Die Sneeukoningin is besig om kultusstatus onder die kleingoed te kry. Hier is die volledige produksienotas van die Sneeukoningin 2 vir die jongklomp (en hul ouers wat ook steeds aan sprokies glo!) Die fliek word dié maand vrygestel.

sneeukoningin2 Afrikaanse Poster FINAL SQ2

Die verhaal van Die Sneeukoningin (The Snow Queen ) is gebaseer op die oorspronklike klassieke sprokie wat deur Hans Christian Andersen geskryf en in 1845 vir die eerste keer gepubliseer is. Die verhaal handel oor die stryd tussen die goeie en die slegte wat ’n klein seuntjie en dogtertjie – Gerda en haar broertjie Kai – aanpak.

In Die Sneeukoningin 2 word die storie verder gevoer. Na hulle oorwinning oor die Sneeukoningin het die trolle ’n smaak vir vryheid ontwikkel. Nadat die trol Orm ’n groot rol in die oorwinning gespeel het, het hy almal se held geword. Maar nou is dit nie vir hom genoeg nie. Nadat hy op ’n komiese manier sy heldedaad en prestasies vreeslik oordryf het, begin hy om ’n web van leuens te spin – hy beweer byvoorbeeld dat hy die Sneeukoningin eiehandig oorwin het en dat dit voorbeskik is dat hy met die prinses sal trou en baie magtig en ryk sal word. Maar waarheen lei Orm se stories en gaan dit hom in die moeilikheid laat beland?
In hierdie opwindende en gevaarlike avontuur leer Orm dat ’n mens nie vriende, geluk en ware liefde deur middel van bedrog kan bekom nie.
Hoewel die ou gunsteling karakters steeds in die ysige wonderland woon, ontmoet ons in hierdie rolprent ’n hele klomp splinternuwe, dierbare karakters.
Die Afrikaanse stemme word gespeel deur Pierre Breytenbach as Orm, Leah as Gerda, Christine Voorendyk is Alfida en Richard van der Westhuizen is Generaal Arrog. Leah sing ’n oorspronklike liedjie vir die rolprent vanaf haar nuwe Deluxe Album.

Die Sneeukoningin 2 is deur Wizart Animation in Rusland vervaardig, met Alexey Tsitsilin as die regisseur en Tsitsilin, Alexey Zamyslov en Vladimir Nikolaev het saam die draaiboek geskryf. Timur Bekmambetov, Yuri Moskvin, Vladimir Nikolaev en Diana Yurinova is die vervaardigers.

Die Sneeukoningin 2 was een van 17 animasieprente wat in 2014 die Golden Globe-kortlys gehaal het en is reeds uitgereik in teaters in die Verenigde Koninkryk, Suid-Korea, die Midde-Ooste, Baltiese State, Rusland, die Statebond van Onafhanklike State, Kroasië, Serbië, Montenegro, Bosnië en Herzegovina, Albanië, Slovenië, Macedonië en Israel en het in die lande waar dit uitgereik is, twee keer soveel as die eerste rolprent verdien.

Meer oor Hans Christian Andersen
Hans Christian Andersen is op 2 April 1805 in Denemarke gebore, en het wêreldwyd roem met sy innoverende en invloedryke sprokies verwerf. Klassieke voorbeelde uit hierdie genre is Die klein meerminnetjie, Die lelike eendjie en Die prinses en die ertjie. Andersen is op 4 Augustus 1875 in Kopenhagen oorlede.

In 1829 het Andersen vir die eerste keer erkenning as skrywer gekry met die publikasie van ’n kortverhaal, wat hy opgevolg het met ’n toneelstuk, ’n digbundel en ’n reisjoernaal. Die belowende jong outeur het daarna ’n geldelike toekenning by die Deense koning gekry wat hom in staat gestel het om deur Europa te reis en sy skryfwerk verder te ontwikkel. Andersen het in 1835 begin om sprokies te skryf en vir die volgende paar dekades het hy aanhou skryf vir kinders en vir grootmense – ondermeer verskeie outobiografieë, reisverhale en poësie wat die deugde van die Skandinawiese mense besing het.

Die bronne van sy kinderstories was hoofsaaklik Deense volksverhale en sy oogmerk as skrywer was eerder om nuwe letterkundige werke wat op volksvertellings gebaseer was, te skep as om die volksverhale te bewaar. Aanvanklik het sy kritici en lesers sy werke wat die nou klassieke stories soos Die klein meerminnetjie en Die keiser se nuwe klere ingesluit het, geïgnoreer. In 1845 het die Engelse vertalings van Andersen se volksverhale en stories egter die aandag van buitelandse lesers vasgevang. Hy het ook ’n vriendskap met Charles Dickens aangeknoop en in 1847, en weer tien jaar later, het hy by hom besoek afgelê in Engeland.

Sy stories het klassieke Engelse leesstof geword en het ’n sterk invloed op die opkomende geslag Britse skrywers van kinderboeke geword, soos AA Milne en Beatrix Potter. Met verloop van tyd het die Skandinawiese lesers, asook lesers in Amerika, Asië en regoor die wêreld, Andersen se stories ontdek.

Andersen se invloed op kinderliteratuur was merkwaardig. Sy sprokies is in heelwat tale vertaal en baie van sy karakters soos die klein meerminnetjie, die vuurhoutjiedogtertjie en die lelike eendjie is internasionaal bekende karakters. Sy sprokies het in prenteboeke, toneelstukke, operas en as handelsware hulle buiging gemaak of is vir die verhoog of skerm verwerk, soos die baie gewilde animasieweergawe van Die klein meerminnetjie. Boonop het Andersen se lewe die onderwerp van heelwat teateropvoerings en rolprente geword. En skrywers van kinderboeke wêreldwyd erken ronduit dat Andersen hulle rolmodel en inspirasie was. In 2006 is ’n pretpark wat op sy werk gebaseer was, in Shanghai geopen. Maar hoe belangrik Andersen werklik geag word, word geïllustreer deur die feit dat die wêreld se gesaghebbendste prys vir kinderliteratuur, die Hans Christian Andersen-medalje, na hom vernoem is en dat sy verjaarsdag, 2 April, as Internasionale Kinderboekdag gevier word.

Om ’n sprokie te verstaan
’n Sprokie soos Die Sneeukoningin is ’n fiktiewe storie met ’n hele klomp volkskarakters (soos feetjies, kabouters, elwe, trolle, hekse, reuse en pratende diere) propvol bekoorlike oomblikke en dikwels ’n vergesogte opeenvolging van gebeure.

Sprokies of feëverhale se wortels word aangetref in die mondelinge tradisie wat oor verskillende kulture en vastelande strek en daarom toon baie sprokies se intriges, karakters en motiewe heelwat ooreenkomste. Sprokies is ook geneig om by die kenmerke van die omgewing waarin hulle afspeel aan te pas, soos blyk uit die keuse van die motiewe, die styl waarin dit vertel word en die manier waarop dit uitgebeeld word.

Stith Thompson, ’n Amerikaanse akademikus wat in volksvertellings spesialiseer, omskryf die sprokie as ’n redelike lang vertelling met ’n opeenvolging van motiewe of episodes. Dit speel af in ’n onwerklike wêreld sonder ’n presiese ligging of definitiewe kreature en allerhande wonderlike dinge gebeur in die storie. In hierdie kammaland maak beskeie helde hulle teenstanders dood, bestyg trone en trou met prinsesse.

Hoewel daar baie definisies van sprokies is, is die een aspek waaroor wêreldwyd saamgestem word, dat ’n sprokie nie feetjies hoef te hê om ’n feëverhaal te wees nie. Soos Thompson tereg opgemerk het, is pratende diere en die teenwoordigheid van ’n towerkrag meer algemeen aan sprokies as feetjies.

Die karakters en motiewe van sprokies is eenvoudig en oorspronklik: daar is gewoonlik prinsesse en uitgeworpe prinsesse, jongste seuns en dapper prinse, bullebakke, reuse, drake en trolle, sluwe stiefmoeders en vals helde, towertantes en ander magiese helpers, soms pratende perde, of jakkalse of voëls; berge van glas en dinge wat verbied word sodat die verbod verontagsaam kan word; lang, moeisame reise en take wat feitlik onmoontlik is om uit te voer.

In sprokies is dit redelik algemeen om menslike swakhede te ontgin én menslike sterk punte te laat seëvier, en die stryd tussen goed en kwaad, lig en donker, die ontginning van mense se gedeelde ervarings, diepste begeertes en vrese, is temas wat herhaaldelik voorkom.

Namate kinders grootword en gedwing word om werklike onregte en teenstrydighede in hulle lewens trompop te loop, sal hulle onbewustelik die boodskappe wat eie aan sprokies is, herroep en daarvolgens reageer. Sommige sprokies is gegrond op legendes wat geïnkorporeer is in ’n geloofsoortuiging van die kultuur waarin dit voorkom en wat bedoel was om die waarheid te vertel.

Andersen se Die Sneeukoningin (Snedronningen in Deens) is in Desember 1844 vir die eerste keer in die versameling New Fairy Tales, First Volume gepubliseer. Die storie handel oor die stryd tussen goed en kwaad soos wat Gerda en Kai dit ervaar. Dit is ’n verhaal van beproewinge en belonings, gebaseer op ’n gewilde Noorse legende van die ysmeisie waarin die onsigbare mag van die liefde – ’n tema wat herhaaldelik in Andersen se skryfwerk voorkom – ’n sterk tema is.

Hierdie storie is een van Andersen se langste stories maar sekerlik ook een van sy sprokies wat die hoogste aanskryf word. Dit word gereeld by geselekteerde stories en versamelings van sy werk ingesluit en word ook dikwels in geïllustreerde storieboekuitgawes vir kinders herdruk.
Karakterbeskrywings

Orm (die trol en hoofkarakter)
Orm is ’n doodgewone trol en nie juis iets vir die oog nie – selfs nie volgens trolstandaarde nie. Orm se krag lê nie in die fisieke opgesluit nie. Sy ware meriete is van ’n heel ander aard: hy is slu en vlug van begrip.
Dit was juis sy vindingrykheid wat gehelp het dat hy nie deur die Sneeukoningin “gevries” is nie, maar is in plaas daarvan deur haar in diens geneem. Terwyl hy vir die Koningin gewerk het, moes hy soms die allervreeslikste, dikwels uit-en-uit gemene bevele uitvoer en het hy mettertyd, na elke opdrag, meer sinies en wantrouig geraak.
Maar ’n meisie met die naam Gerda kyk dieper as die bose trol se uiterlike en ontdek die ware Orm: ’n goedhartig, hartlike en die belangrikste van alles, eerlike trol! Saam slaag Orm en Gerda daarin om die heerskappy van koue en vrees te oorwin.
Na baie jare van rondswerf, keer Orm terug na sy huis in Trol Stad en na sy ouma. Hy werk nou as ’n steenkoolmyner en kan kwalik uitkom met wat hy verdien, al was hy die een wat die seël van die Sneeukoningin verbreek het en die trolkoninkryk ontvries het!
Die lewe van ’n eenvoudige steenkoolmyner pas doodeenvoudig nie by hom nie! Orm besluit dus om nuwe avonture aan te pak en nuwe leuens uit te dink – en hoe meer hy jok, hoe nader beweeg die wêreld aan nog ’n ysramp! Is Orm besig om die wêreld in die rigting te lei waar alles wees gaan vries?

Arrog (die superster)
Arrog kom uit ’n beroemde trolfamilie. Hy kan sonder ophou praat oor die wonderlike kordaatstukke van sy heldhaftige oupa. En tog het hy nog nie selfs sulke prestasies behaal nie en droom hy daarvan om te bewys dat hy die Prinses en die kroon waardig is.
Arrog kon uit ’n ryk gesin en dit het hom vreeslik baie selfvertroue gegee en narsissisties gemaak. Wanneer hy egter nie in die kollig is nie, hou hy op om voor te gee en word hy ’n streng, maar regverdige en edel trol. Nadat hy die uitdagings wat oor sy pad gekom het, die hoof gebied het, besef Arrog dat afkoms en adellike herkoms nie saak maak nie en dat hy nie juis van die nie-adellikes verskil nie.

Orm se Ouma
Ouma, Oums of Ouma Rose (Granny, Gran of Grandma Rose) is ’n goedhartige en deernisvolle mens. Sy is werklik lief vir haar kleinseun Orm en glo elke woord wat hy sê. Soos wat sy ouer word, raak sy toenemend vergeetagtig hoewel sy haar passies op die dansvloer toe sy jonk was onthou en hoe sy en die Prins op die maat van diskomusiek gedans het.
Baie jare gelede het die vorige Koning vir Ouma by die paleis uitgesmyt en sy seun (toe die Prins maar nou die huidige Koning) verbied om met haar te trou. En die lafhartige Prins het aan sy pa se wense toegegee.
Hierdie geskiedenis behoort aan die verre verlede en nou hou Rose huis, brei sokkies, bak pasteie en versorg haar enigste kleinseun, Orm, liefderyk.

Gerda
Gerda is die hoofheldin van Die Sneeukoningin. Sy is dapper, goedhartig en eerlik maar het ’n baie sterk wil. Sy het in ’n kinderhuis grootgeword en geleer om haarself te verdedig. Gerda is altyd reg vir ’n avontuur en sy sien “die goeie” in selfs die aakligste mense.
Haar ontvanklike, warm hart sê vir haar dat Orm in die moeilikheid is. En daarom besluit Gerda en haar vriende om haar ou maat te gaan besoek.

Die Koning
Die Koning se pa was ’n ongenaakbare en dominerende heerser. Die koning, aan die ander kant, is vatbaar vir indrukke en ietwat van ’n lafaard. Hy omring hom met helde en heldhaftigheid – iets wat nie binne sy eie vermoëns is nie. Toe hy destyds nog ’n prins was, was hy verlief op Ouma Rose, maar sy pa was gekant teen die verhouding en nou op sy oudag is die Koning alleen. Hy is baie lief vir sy niggie, Prinses Maribel, en kan nie wag vir die dag dat hy sy kroon aan sy erfgename kan afstaan sodat hy uiteindelik kan doen wat hy wil en nie wat van hom verwag word nie.

Maribel
Die Koning se niggie. Sy is ’n bedorwe brokkie en behandel almal om haar asof hulle haar speelgoed is. Maribel is veeleisend en wispelturig en ’n uitstekende manipuleerder van haar oom, die Koning. Maar alles verander in ’n oogwink toe die Noorde Wind haar wegwaai …
Lokum
Orm se vriend. Hy is ’n polisieman en gewoonlik aan die lui kant en onverskillig. Maar hy is tog bereid om as die nood druk ’n ou vriend te hulp te snel. Hy vertrek saam met Orm op ’n gewaagde avontuur.
Luta
Luta is ’n troetelwesel. Sy is Orm se ware vriend en gewete. Sy sal sonder enige huiwering haar lewe vir Orm waag, maar sy is nie blind vir sy leuens en sondes nie en sal hom vinnig daarop wys. Luta wen altyd haar argumente met Orm en is loshande die soepelste karakter.
Kai
Gerda se broer – ’n dromer, kunstenaar en digter. Hy is verlief op Alfida, die seerower, maar weet glad nie hoe om sy gevoelens te wys nie. Hy is bereid om vir Gerda en Alfida te help, maar is nie in staat om self besluite te neem nie.
Alfida
Alfida is ’n seerower in murg en been. Sy is sterk, outoritêr en vasberade – maar sy het ’n sagte hart en is sterk voorstaander van regverdigheid. Alfida weet dat Kai van haar hou en hoewel sy die aandag wat hy op haar uitstort vleiend vind, het sy besluit om nie daarop te reageer nie omdat dit nie betaamlik vir seerowers is om verlief te raak nie!
Die Mynbaas
Die voorman by die myn waar Orm werk. Hy is ’n ware selfgemaakte trol. Frases soos “ek kan nie” of “dit is onmoontlik” irriteer hom: as hy iets kan doen, het niemand anders ’n verskoning nie! Die Mynbaas probeer om sy sekretaresse die hof te maak maar hy is nie baie ervare in sulke sake nie en elke poging wat hy aanwend word op die een of ander manier deur Orm in die wiele gery.

Die Sekretaresse
Die tipiese sekretaresse, ’n modebehepte vrou wat graag skinder. En mense wat nie vir haar belangrik is nie, sien sy glad nie raak nie.

Rahat
’n Sterk dog skadelose en eenvoudige myner. Hy hou van sy werk en wil niks anders doen of wees nie. Hy het nie baie vriende nie maar koester die vriende wat hy het en sal enigiets vir hulle doen.

Eric
’n Bankier wat geld bo enigiets anders in sy lewe stel. Hy sal selfs die mense naaste aan hom sonder om ’n oog te knip bedrieg, terwyl vreemdelinge sonder geld hom glad nie interesseer nie. Hy is slu.

Musiek

MARK WILLOTT – KOMPONIS
Mark Willott is ’n Emmy-bekroonde komponis uit die Middelande van die Verenigde Koninkryk. Sy eerste kommersiële werk was die klankbaan van die hoog aangeskrewe PlayStation-titel, “Cold Winter”. In 2007 begin hy om vir Turner Sports te komponeer, wat dekking aan NBA, NASCAR, die PGA en hoofliga-bofbal op die TNT-netwerk gee. In 2008 het hy ’n Emmy vir buitengewone prestasie in komposisie gewen vir sy eerste opdragwerk van Turner Sports, The Playoffs op TNT. In 2009 ontvang hy sy tweede Emmy-nominasie. Willott gebruik die mees gevorderd instrumente en hulpmiddels beskikbaar om passievolle, dinamiese musiek vir alle genres te skep. Hy het tot op datum meer as 300 kommersiële komposisies as opdragwerk gedoen.
Die Afrikaanse weergawe van Die Sneeukoningin 2 spog met ’n splinternuwe titelsnit wat deur Leah gesing word en deur Johan Vorster geskryf is.

“MAAK MY DAG” – DIE TITELSNIT VAN DIE SNEEUKONINGIN 2
Nadat sy aan ’n magdom musiekkompetisies deelgeneem en tussenin TV-advertensiewerk gedoen het, het Leah se groot deurbraak gekom in die vorm van modelwerk: in November 2011 wen sy Rapport se Model van die Jaar-kompetisie en kort daarna het die liedjieskrywer Johan Vorster haar hoor sing en onmiddellik werk daarvan gemaak om haar ’n platekontrak aan te bied. Vandag spog Leah met n debuutalbum “Wonderwerk” wat in 2015 die lig gesien het. In 2016 het Leah een Ghoema- en drie Huisgenoot Tempo-toekennings verwerf as Beste Nuweling, Beste Liedjie en Beste Musiekvideo. Haar debuutalbum “Wonderwerk” word as deluxe weergawe binnekort heruitgereik met vier bonussnitte waarvan een die titelsnit is vir Die Sneeukoningin 2, wat aan die einde van die film gespeel word.
“Maak My Dag” is ’n splinternuwe enkelsnit wat middel Oktober op Leah se nuwe Deluxe Album sal wees, en dit is ook die temalied van Die Sneeukoningin 2.

Die bekende liedjieskrywers, Johan Vorster en Christoph Kotze, het “Maak my Dag” vir Leah geskryf en dit beloof om n groot treffer te word met die Somer wat oppad is.
Die bekende liedjieskrywer, Johan Vorster, het “Maak my Dag” vir Leah geskryf nadat hy heelwat ander snitte vir haar debuutalbum geskryf en vervaardig het.
Vorster was medeskrywer van die musiek vir die plaaslik vervaardigde musiekblyspele, Ons vir Jou, Jock of the Bushveld en Shaka Zulu – The Musical, ’n toneelstuk vir die teater oor die opstanding en val van die legendariese Shaka Zulu. Hy het ook die grootste deel van die musiek vir die Suid-Afrikaanse rolprent, Platteland, gekomponeer.
Produksiemaatskappye

Wizart Animation
Wizart Animation is een van die rekenaaranimasiestudio’s in Rusland wat die vinnigste groei. Hulle hoofdoelwit is om rolprente en animasiereekse van hoë gehalte, en wat op gesinne gerig is, te ontwikkel, te vervaardig en te versprei. In hulle produksies kombineer hulle gewoonlik innoverende tegnologieë en uitstekende, treffende stories vir kinders en volwassenes wat in wonderwerke glo.

Die maatskappy se huidige portefeulje bevat ’n reeks animasieprojekte in verskillende stadiums van produksie. Hulle hoofprojek vir 2012 was die magiese 3D-storie, The Snow Queen (met Bazelevs en Inlay Film as medevervaardigers), waarna hulle die animasieprent Sheep’n’Wolves vervaardig het. Hulle ontwikkel tans ’n animasietelevisiereeks.
www.wizartanimation.com

Die Bazelevs-groep
Die Bazelevs-groep maatskappye is in 1994 deur die regisseur en vervaardiger Timur Bekmambetov gestig. Bazelevs vervaardig advertensies en rolprente, waarvan ’n hele paar al suksesvol by nasionale sowel as internasionale rolprentmarkte versprei is. Bazelevs werk ook saam met Rusland se grootste televisie- en radiokanale en rolprentstudio’s soos Universal, 20th Century Fox en Focus Features.

In Januarie 2014 is die stigter van Bazelevs, Timur Bekmambetov, deur die Amerikaanse Vervaardigersgilde benoem as die Beste Vervaardiger van die Jaar van rolprentanimasie vir “9”. En in 2012 is CinemaCon by die jaarlikse Amerikaanse rolprentbedryf se uitstalling in Las Vegas aangewys as die Internasionale rolprentmaker van die Jaar.

Bekmambetov het (saam met Tim Burton) die Hollywood-lokettreffer, Abraham Lincoln: Vampire Hunter geregisseer en vervaardig. Die prent is deur 20th Century Fox uitgereik.
In 2013 het Bazelevs die vervaardiging van Gentlemen of Fortune voltooi, wat ’n heropname van een van die grootste lokettreffers van die Sowjet-era was.
www.bazelevs.ru

Volg hierdie skakel om na die lokprent te gaan kyk:

Related Articles

Back to top button