NewsNews

Mulder nie weer as VF+ leier beskikbaar nie

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het homself nie weer as leier verkiesbaar gestel op die party se driejaarlikse verkiesingskongres wat hierdie naweek in Johannesburg plaasvind nie.

Dr. Pieter Mulder.

Dr. Pieter Mulder.

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het homself nie weer as leier verkiesbaar gestel op die party se driejaarlikse verkiesingskongres wat hierdie naweek in Johannesburg plaasvind nie. Die party sal nou by die vergadering ‘n nuwe leier moet aanwys.

Dr. Mulder is vanjaar 15 jaar lank leier van die VF plus nadat hy in 2001 onbestrede as leier gekies is na genl. Constand Viljoen se uittrede. Sedert 2001 is dr. Mulder by elke VF Plus-reorganisasie nog eenparig verkies en was hy weer onbestrede as leier by vanjaar se verkiesing genomineer.

Dr. Mulder het geargumenteer dat omdat hy nie van plan is om aan die 2019-verkiesing deel te neem nie, dit net billik is om ‘n nuwe leier geleentheid te gee om hom of haar voor 2019 te vestig. Die volgende reorganisasievergadering van die VF Plus vind eers na 2019 plaas. Hy is wel bereid om vir ‘n oorgangstydperk as VF Plus-parlementslid aan te bly. Dr Mulder is vanjaar 28 jaar ononderbroke in die parlement nadat hy in Maart 1988 vir die eerste keer verkies is. Dit maak hom die parlementslid met die langste ononderbroke diens in die huidige parlement.

Volgens dr. Mulder is die party goed gevestig, sonder skuld en met takke en strukture in al die provinsies. Die VF Plus het ook sy steun in die 2016-plaaslike verkiesing verdubbel met raadslede in al nege provinsies. Die VF Plus het vyfde gekom van die 200 politieke partye wat aan die 2016 plaaslike verkiesing deelgeneem het. Dit verskaf ‘n goeie platform vanwaar ‘n nuwe leier die VF Plus verder kan uitbou op pad na 2019 se verkiesing.

Dr. Mulder was ‘n professor en departementshoof in Kommunikasiekunde voordat hy die politiek betree het.

Related Articles

Back to top button