
Studente op die Potchefstroomkampus het op 24 Oktober met hul eksamens begin en tot dusver was daar geen ontwrigting nie. Eksamens in dié modules wat deel vorm van statutêre liggame se vereistes en wat regoor die NWU aangebied word, is nie geskuif nie en is sedert laasweek Maandag oor al drie kampusse van die NWU afgelê
Eksamens op die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus het die afgelope Saterdag, 29 Oktober, amptelik begin. Daar was ook geen ontwrigting nie.
Volgens ‘n verklaring van die NWU word die situasie streng dopgehou en sekuriteitsmagte is gereed vir enige gebeurlikheid wat daarop gemik mag wees om die eksamens te ontwrig.
“Ons opregte dank aan alle personeel, ouers, alumni en ander belanghebbers vir hul volgehoue ondersteuning gedurende hierdie tydperk. Met die ondersteuning van al ons belanghebbers bly ons daartoe verbind om hierdie akademiese jaar suksesvol af te handel,” lui die verklaring van die NWU.



