Boere en polisie vat hande vir landelike beveiliging
’n Baie suksesvolle misdaadvoorkoming- en sigbaarheidsoperasie is verlede Dinsdag in die landelike gebied van Parys gehou deur die Zamdela Polisie Cluster. Twaalf strategiese punte is vir die operasie in die distrik geïdentifiseer waar polisiebeamptes met die hulp van die distrik se boere voertuigbeheerpunte opgestel het. Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) het ’n prominente rol gespeel in die beplanning van die operasie en kommunikasie tussen rolspelers. ’n Private helikopter is ook vir die duur van die operasie gebruik. Daar is so wyd as die Vaal Eden-gebied, Barrage, Wolwehoek en Dover, tot by Inlandsee gewerk. Sowat 40 voertuie met 90 insittendes is deursoek. Die operasie het die hoë prioriteit beklemtoon wat landelike veiligheid binne die Zamdela Cluster geniet en is gedoen in aanloop tot die feesseisoen.

’n Baie suksesvolle misdaadvoorkoming- en sigbaarheidsoperasie is verlede Dinsdag in die landelike gebied van Parys gehou deur die Zamdela Polisie Cluster.
Twaalf strategiese punte is vir die operasie in die distrik geïdentifiseer waar polisiebeamptes met die hulp van die distrik se boere voertuigbeheerpunte opgestel het. Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) het ’n prominente rol gespeel in die beplanning van die operasie en kommunikasie tussen rolspelers. ’n Private helikopter is ook vir die duur van die operasie gebruik. Daar is so wyd as die Vaal Eden-gebied, Barrage, Wolwehoek en Dover, tot by Inlandsee gewerk.
Sowat 40 voertuie met 90 insittendes is deursoek. Die operasie het die hoë prioriteit beklemtoon wat landelike veiligheid binne die Zamdela Cluster geniet en is gedoen in aanloop tot die feesseisoen.
Elf polisiestasies in Ngwathe, Metsimahollo en Mafube vorm deel van die Zamdela Cluster wat onder bevel staan van brig. Morake en lt. kol. Danie Truter (Sigbare Polisiëring bevelvoerder, getaak met landelike beveiliging).
Die operasie sal voortaan maandeliks gehou word. Polisiebeamptes wat getaak is met plaasbesoeke, word ook nou streng gemonitor met maandelikse terugvoer vergaderings in ’n daadwerklike poging tot beter samewerking tussen georganiseerde landbou en die SAPD vir landelike beveiliging. ’n Pluimpie in die hoed vir brig. Morake en sy span.



