NewsNews

Ek het, maar ek het ook nie

VEREENIGING. – Die Du Preez-gesinsmoordsaak is reeds twee weke aan die gang in die hooggeregshof in die stad. Fanie du Preez (40) is op 3 Desember 2015 in hegtenis geneem vir die moorde op sy vrou Thea (43) en hul twee kinders Carlia (17) en Philip (14). Hy het eers skuldig en later onskuldig…

634A9531[1]

//

VEREENIGING. – Die Du Preez-gesinsmoordsaak is reeds twee weke aan die gang in die hooggeregshof in die stad.
Fanie du Preez (40) is op 3 Desember 2015 in hegtenis geneem vir die moorde op sy vrou Thea (43) en hul twee kinders Carlia (17) en Philip (14). Hy het eers skuldig en later onskuldig gepleit op al die moordklagte. Hy beweer nou hy wou nie sy gesin skiet nie, maar is deur twee Nigeriese dwelmbase gedwing om dit te doen.
Drie aanklagte van moord, regsverydeling en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie staar Fanie in die gesig.
Brandon Grové, wat drie en ‘n half jaar met die 17-jarige Carlia du Preez in ‘n verhouding was, het verlede Dinsdag getuig dat hy elke aand by die Du Preez’s se huis gekuier het en met die toestemming van haar ouers, soms in Carlia se kamer oorgeslaap het.
Vroulike familielede het agterna aan Vaalweekblad gesê dit kon dalk die indruk gewek het dat die tieners seksuele gemeenskap gehad het, maar die nadoodse ondersoek het aangedui dat Carlia ten tyde van haar dood nog ‘n maagd was. Hy het ook getuig oor die streng veiligheidsreëls in die Du Preez huishouding.
Ao. Francois Alberts het Donderdag 13 Oktober getuig dat hy die dag na die moorde terug is na die toneel waar hy ‘n tuisgemaakte knaldemper as bewys herwin het. Thea se polisse, waarvan een R2.2 miljoen beloop en waarvan Fanie du Preez die hoofbegunstigde sou wees, is ook aan die hof voorgehou.
Maandag 17 Oktober het kaptein Joe van Rooyen, ’n ballistiese forensiese deskundige, ‘n rekonstruksie van die moordtoneel met behulp van sketse en tekeninge verduidelik van hoe hy dit op 3 Desember 2015 met sy besoek geïnterpreteer het.
Hy het tot die slotsom gekom dat Thea geskiet is met twee skote uit ‘n .38 rewolwer, waaraan ‘n tuisgemaakte oliefilter-knaldemper geheg was en wat om ‘n kussing gedraai was.
Daarna is Du Preez vermoedelik na Phillip se kamer waar twee skote met die .38 misgeskiet is en een skoot, nadat die oliefilter as gevolg van ‘n struweling of ‘n stamp geskuif het, binne in die oliefilter tot stilstand gekom het.
‘n Vierde skoot uit ‘n 9mm pistool het Phillip in die kop getref waar hy vermoedelik óf op die bed gesit het, óf in die rigting van die skieter beweeg het en langs die bed neergeval het.
Kaptein Van Rooyen het met ’n rubberpistool die posisies, rigting en hoogte van die pistool aangedui en dit in ‘n stadium teen die hof-ordonans se kop, ao. Hannes Badenhorst, gedruk om beter aan die hof te verduidelik.
Kaptein Van Rooyen het voorts getuig dat sewe skote in Carlia se kamer afgevuur is. Sy het vermoedelik wakker geword van die laaste 9mm skoot wat Phillip gedood het. Sy het ses wonde aan haar liggaam gehad.
Een was deur haar hand soos sy probeer keer het. Twee van die koeëls is deur die matras en een is steeds binne-in die matras gevind.
In totaal is dertien skote afgevuur waarvan net die projektiel wat Phillip deur die kop getref het, nie gevind is nie.
Rina Fouchè, Thea se suster, was volgende aan die beurt maar nadat die verdediging dit as hoorsê-getuienis afgemaak het, is dit as karaktergetuienis aangehoor. Fouchè het getuig oor die gesin se kwaai hond, wat niemand buiten bekendes naby die huis sou toelaat nie en selfs haar kinders of enige iemand sou byt as hulle hardloop.
Fouchè het ook getuig oor die alarmstelsel en hoe ernstig Du Preez oor die beveiliging van sy gesin was.

Fanie du Preez soengroet sy ma, mev. Joan van Wyngaardt in die hof.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button