Alles verloor…maar soveel dankbaarheid
Wat red jy wanneer ’n leeftyd se herinneringe in ’n oogwink voor jou oë tot as verbrand. Wanneer ’n enkele matriekafskeid fotoraam en ’n paar meubels en los goed op die sypaadjie al is wat oor is van meer as 12 jaar se bekendheid om jou. “Ek het gebid...baie gebid en vir die Here gesê ek weet nie wat nou die plan is, maar dat die wind net moet gaan lê. En dit het op ’n stadium,” het Dini Prinsloo gesê waar sy en haar man, landdros Gustav Prinsloo buite in hul groot boomryke tuin vanmiddag (Donderdag 6 Oktober) gestaan het met rook en verwoestende vlamme wat hul grasdakhuis by Pretoriusstraat 10 in ’n oogwink heeltemal tot niks afgebrand het.
Wat red jy wanneer ’n leeftyd se herinneringe in ’n oogwink voor jou oë tot as verbrand. Wanneer ’n enkele matriekafskeid fotoraam en ’n paar meubels en los goed op die sypaadjie al is wat oor is van meer as 12 jaar se bekendheid om jou.
“Ek het gebid…baie gebid en vir die Here gesê ek weet nie wat nou die plan is, maar dat die wind net moet gaan lê. En dit het op ’n stadium,” het Dini Prinsloo gesê waar sy en haar man, landdros Gustav Prinsloo buite in hul groot boomryke tuin vanmiddag (Donderdag 6 Oktober) gestaan het met die rook en verwoestende vlamme wat hul grasdakhuis by Pretoriusstraat 10 in ’n oogwink tot niks afgebrand het.
Werkers wat aan die grasdak gewerk het om dit weer te dek, was net klaar gewerk en af van die dak, toe die brand vermoedelik weens ’n kortsluiting net na 13:00 uitgebreek het. In daardie oomblik was Gustav op die foon met Ryno Lindeque van die We Care publieke whatsapp-groep, besig om ’n ander aangeleentheid te bespreek. Die volgende oomblik het Gustav net gesê die huis se dak brand.
Ryno het dadelik hulp ontbied van die We Care groep. Ook Pieter Kemp en lede van LGV was vinnig met hulp op die toneel.
Die wind het die vlamme tussen die boonste en onderste gras gedryf – so dat daar op ’n stadium selfs kommer was oor die huis langsaan.
Maar in ’n oogwink was mense van oral daar om te help. Omgee-mense.
Nooddienste, bure, We Care lede, boere, verbygangers, vriende, familie, selfs die DBV wat blitsig die Prinsloos se hondjie kom haal het om veilig by hulle te hou terwyl daar rondgehardloop is met water, brandslange, koeldrank vir hulle wat onverpoosd gewerk het om die vlamme te probeer blus te midde van die wind en te red wat te redde was.
En dis hierdie omgee wat vir hulle kalmte gegee het te midde van die verwoesting, sê Dini. “Sê net vir almal dankie,” het Dini en Gustav gesê, want al het hul alles verloor wat deel was van Pretoriusstraat 10, het dié egpaar die saamstaan en omgee van ’n dorp se mense om hulle gehad wat nie geskroom het om te help toe hul hulp die nodigste was.