NewsNews

Moenie dat jou kind na jou soek

Missing Children SA het pas bekend gemaak dat 142 kinders vir die tydperk 1 Desember 2015 tot 31 Augustus 2016 as vermis aangegee is, waarvan net 111 gekry is. Die plaaslike We Care gemeenskap WhatsApp-groep het ook die afgelope tyd verskeie  boodskappe geplaas waar kinders soek was na skool. Aan die begin van die nuwe …

Missing Children SA het pas bekend gemaak dat 142 kinders vir die tydperk 1 Desember 2015 tot 31 Augustus 2016 as vermis aangegee is, waarvan net 111 gekry is. Die plaaslike We Care gemeenskap WhatsApp-groep het ook die afgelope tyd verskeie  boodskappe geplaas waar kinders soek was na skool. Aan die begin van die nuwe skoolkwartaal is dit nodig om as ouers dalk net weer oor die volgende na te dink:
* Wanneer jou kind nie op die afgespreekte punt is waar julle mekaar sou kry nie, is dit eerstens baie belangrik om kalm te bly.
* Indien jou kind nie by die skool- of sportterrein is wanneer jy hom/haar moet oplaai nie, skakel heel eerste jou kind se onderwyser, die skoolkantoor of sportafrigter vir hulp voordat jy jou tot sosiale media wend. Dit help nie mense in die dorp weet jou kind is soek, maar sy onderwyser of afrigter is onbewus daarvan nie.
* Reël vooraf met maatjies se ouers, of in ’n  noodgeval met die skoolkantoor as jy weet jy gaan laat wees en nie betyds die boodskap by jou kind kan uitkry nie.
* Maak seker dat jy die d6 School Communicator toepassing op jou selfoon aflaai sodat jy op hoogte kan bly van veranderinge ten opsigte van sport oefentye, ens. Die skool kommunikeer gereeld via hierdie toepassing wat so gestel kan word dat jy die relevante boodskappe betyds sal kry.
* Maak seker jou kind ken jou selfoonnommer en dat jy die telefoonnommer voor in jou kind se dagboek of in sy tas skryf waar ander ouers dit maklik kan kry om jou te kontak, sou jou kind êrens hulp nodig kry.
* Indien jy ander ouers se kinders wil huis toe neem, laat weet asseblief eerste die ouers dat jy die kinders oplaai, en as jy nie die ouer in die hande kan kry nie, laat weet dan ten minste die skoolkantoor sodat hulle die ouers kan sê as daar na die kind gesoek word. Onthou dat jy na regte nie ’n kind kan vervoer sonder die ouers se toestemming nie.
Leer jou kind om die volgende te doen as jy nie opdaag op die tyd soos met hom/haar ooreengekom nie:
1. Vra die onderwyser/onderwyseres aan diens om jou te skakel.
2. As daar nie ’n onderwyser/onderwyseres  naby is nie, vra iemand wat jy ken om te help om jou ouers te skakel, of die skoolkantoor.
3. Leer jou kind om onder geen omstandighede, nie eens vir ’n kort rukkie, saam met iemand anders huis toe te gaan of te ry sonder om jou, die onderwyser of onderwyseres, of die skoolkantoor te sê nie.
4. Maak seker dat jy die telefoonnommers het van jou kind se vriende se ouers sodat jy hul direk kan skakel om seker te maak of jou kind by hul huis is.
5. Wanneer die kind as vermis op sosiale media aangemeld word, meld asseblief dat jy reeds die skool en betrokke onderwyser in kennis gestel het, wanneer die kind die laaste keer gesien is, wat die kind aangehad het, en by watter skool/sportaktiwiteit die kind veronderstel was om te wees.
6. Vir skole en onderwysers is dit prioriteit om seker te maak dat kinders altyd veilig is op die skoolterrein. Sodra kinders van die skoolterrein wegbeweeg, kan die skool nie verantwoording doen vir elke kind se bewegings nie. Dit is jou as ouer se verantwoordelikheid om seker te maak jou kind weet waar hy/sy jou moet ontmoet, as daar ’n  moontlikheid is dat jy kan laat wees, wie hom/haar mag/moet oplaai en maak seker dat jy waar moontlik altyd eerder vroeg as laat is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button