NewsNews

Bejaarde se liggaam in kas gekry

’n Bejaarde man van Parys se liggaam is Sondagmiddag in ’n klerekas in sy huis in Coenie Steylstraat gevind. Hy is vermoedelik tydens ’n inbraak vermoor. ‘n Lykskouing sou vroeër vandeesweek gedoen word wat moontlik lig sou werp op die raaiselagtige omstandighede rondom die dood van mnr. Charles van Rooyen (88).

’n Bejaarde man van Parys se liggaam is Sondagmiddag in ’n klerekas in sy huis in Coenie Steylstraat gevind. Hy is vermoedelik tydens ’n inbraak vermoor.
‘n Lykskouing sou vroeër vandeesweek gedoen word wat moontlik lig sou werp op die raaiselagtige omstandighede rondom die dood van mnr. Charles van Rooyen (88).
Volgens ’n buurvrou van die oorledene het sy hom nog verlede Woensdagmiddag gesien. Sondagmiddag het Charmaine, ’n kleindogter van wyle mnr. Van Rooyen en haar man aan haar deur kom klop en gevra dat hulp ontbied word. Hulle het onraad vermoed toe hulle met hul aankoms  die hek en voordeur van haar oupa se huis oopgekry het. Die kombuisvenster was ook gebreek en die diefwering afgesaag.
Hulle het juis besluit om te gaan kyk hoe dit met haar oupa gaan nadat sy hom die Saterdag nie op sy foon in die hande kon kry nie en sy seun Johan, ook Sondagoggend vergeefs gebel het. ’n Onbekende persoon het in ’n stadium sy foon geantwoord.
Volgens die buurvrou was mnr. Van Rooyen iemand wat mense maklik vertrou het, en dikwels vir mense verblyf gegee het. Sy vertel dat hy ten spyte van sy hoë ouderdom, nog baie gesond was maar nie meer goed kon hoor nie. Sy het vir nege jaar langs hom gewoon en dikwels vir hom ’n ete gevat.
Sy het Parys Sekuriteit geskakel en die polisie ontbied, waarna mnr. Van Rooyen se liggaam in die klerekas gevind is. Dit was teen Gazette se druktyd nog nie bekend hoe hy vermoor is nie. Hy het twee klein hondjies gehad en het alleen gewoon.
Volgens mnr. Van Rooyen se seun Johan, vermoed hulle dat sy pa waarskynlik helder oordag oorval is toe hy dalk ’n  middagslapie geneem het. Hy het sy pa beskryf as ’n  goeie en rustige mens wat niemand ooit kwaad aangedoen het nie. “Hy was so lief om met sy motorfiets te ry.” Sy televisie, DVD-speler en hoekslyper, batterylaaier en sweismasjien word onder meer vermis.
Mnr. Van Rooyen word oorleef deur sy seuns, Charles en Johan en sy kleinkinders en agterkleinkinders.
Hy het vroeër geboer en het sowat 20 jaar gelede na Parys verhuis.
Niemand is teen druktyd nog weens die moord in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button