NewsNews

Mondhigiëne vir jou kind

September is Mondhigiëne-maand en watter beter geleentheid as om weer opnuut te kyk na die mondhigiëne van jou kind om seker te maak jou kind het ’n mond vol tande!

September is Mondhigiëne-maand en watter beter geleentheid as om weer opnuut te kyk na die mondhigiëne van jou kind om seker te maak jou kind het ’n mond vol tande!
Tandbederf in babas en kleuters is ’n baie algemene verskynsel en is eintlik baie maklik voorkombaar! Begin vroeg met jou kind en stel vir hulle ’n goeie voorbeeld. Wanneer jou kind sien dat jy vir jou tande sorg, sal hulle die gewoonte makliker aanleer. Deur ’n paar basiese stappe te volg, kan jou kind met ’n breë glimlag deur die lewe gaan!
Hier is ‘n mondvol inligting wat jou kan help om tandbederf te voorkom:
•Sodra die eerste tande uitkom, is dit belangrik dat die roetine begin en volgehou word totdat hulle oud genoeg is om dit self toe te pas.
•Laat jou kind van kleins af ’n sagte tandeborsel vashou en kou sodat hulle gewoond kan raak aan die gevoel en terselfdertyd ontwikkel dit hulle motoriese bewegings.
•Borsel jou kind se tande twee maal per dag (veral in die aand), met ‘n fluoried bevattende tandepasta om plaak van die tandoppervlak te verwyder.
•As jou kind jonger as drie is, is ‘n ryskorrel grootte tandepasta genoeg om mee te borsel en vanaf drie kan hulle ‘n ertjie grootte gebruik.
•Op die ouderdom van vier moet jou kind begin om daagliks tussen die tande te flos om kos wat vassit uit te haal, voordat dit kans kry om ‘n gaatjie te vorm. Flos bereik plekke waar ‘n tandeborsel nie kan bykom nie.
•Laat jou kind ‘n gebalanseerde dieet volg wat suiwel, vrugte en groente insluit en suiker grotendeels beperk. Suiker is die stapelvoedsel vir bakterieë in jou mond en wanneer hulle aanhoudend suiker gevoer word, skei hulle ‘n suur af wat dan tandbederf veroorsaak.
•Borsel die tong ook daagliks – dit is ‘n groot speelterrein vir die bakterieë in die mond en kan ook die oorsaak van ‘n slegte asem wees.
•Wanneer jou kinders oud genoeg is om self hulle tande te borsel, hou toesig om seker te maak dat hul dit wel doen en dat hulle dit deeglik doen.
•Moenie jou kind bed toe stuur met ‘n bottel wat enige suiker bevat nie, dit sluit in koffie, tee, koeldrank en selfs melk in. Jou kind mag slegs met ‘n bottel aan die slaap raak as daar water in is. Die rede hiervoor is dat die tande konstant in kontak kom met die suiker en die bakterieë dan floreer. Hierdie gaatjies word gekenmerk deur ‘n bruin-geel verkleuring en kan die tandjies totaal en al vernietig.
•Dis belangrik om te onthou dat dit glad nie ideaal is om ‘n kind se tand te trek, voordat spontane wisseling plaasvind nie, al is dit ‘n melktand! Dit kan veroorsaak dat die permanente tande skeef en krom uitkom.
Begin tandartsbesoeke vroeg – van omtrent eenjarige ouderdom af. Die tandarts kan voorkomende behandeling gee asook goeie raad. Dit sal ook help om jou kind gewoond te maak aan die tandarts sodat hulle in die toekoms nie bang sal wees nie (en dalk is dit goed vir jou eie senuwees ook!). Kontak (056) 817 7162 of besoek ons gerus by Parys Hospitaal vir enige navrae – vir jou of vir jou kinders!
Onthou: Jy hoef nie al jou tande te borsel nie, net dié wat jy wil hou!!

Related Articles

Back to top button