NewsNews

Man veg om sy lewe na kopskoot – Sasolburg

Alex van Rensburg (45) is Saterdag helder oordag geskiet nadat hy ‘n inbreker agternagesit het wat by sy vriend se huis naby die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg ingebreek het. Alex is tans in ‘n kritieke toestand in die Unie-Hospitaal in Alberton met erge swelling op sy brein.

SASOLBURG. – ‘n Man veg tans om sy lewe nadat hy vir so min as ‘n bankkaart, twee motorfietssleutels en kontant deur ‘n inbreker in die kop en arm geskiet is.

Alex van Rensburg (45) is Saterdag helder oordag geskiet nadat hy ‘n inbreker agternagesit het wat by sy vriend se huis naby die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg ingebreek het.  Alex is tans in ‘n kritieke toestand in die Unie-Hospitaal in Alberton met erge swelling op sy brein.

Alex van Rensburg

Sy vriend, Hendrik Griesel het Saterdag omstreeks 14:00 ‘n inbreker in sy huis betrap. “Die kluis was reeds oopgebreek en die inbreker het met my rewolwer en ‘n houer patrone in die hand gestaan,” sê Hendrik. Die inbreker het gedreig om Hendrik te skiet en die sneller van die rewolwer twee keer getrek. Die rewolwer het egter nie patrone in gehad nie. “Ek het vir hom gesê hy het nou waarvoor hy gekom het, so hy moet die goed vat en gaan.

“Op pad uit het hy weer twee skote op my probeer vuur en weer het die rewolwer nie geskiet nie. Toe weet ek daar is nie patrone gelaai nie en het ek hom agternagesit,” sê Hendrik. Die inbreker het oor die hek gespring en Hendrik het besluit om sy vriend Alex, te bel. Laasgenoemde was binne enkele minute daar en het die inbreker in die rigting van die Hoëveldse Tuine gaan soek, terwyl Hendrik in die rigting van die tronk gery het. Alex en sy vrou Charlene het die inbreker gesien en agternagesit.

“Hy het die rewolwer uitgehaal en op ons gerig, maar niks het gebeur nie. Hy het toe die rewolwer oopgemaak en vermoedelik gelaai. Hy het egter kort daarna in die groenstrook verdwyn,” vertel Charlene. “Ons het stilgehou en Alex het oor die muur gekyk, hom gesien en oor die muur gespring. Toe hoor ek die skote en sien hoe die inbreker weghardloop. Ek het oor die muur gekyk en Alex op sy sy sien lê. Ek het dadelik vir Hendrik gebel. “Ek het gedink my man gaan dood, want hy het geroggel weens die bloed en daar was sand in sy mond.” Sy en Hendrik het Alex in die motor gelaai. By die Hoëveldse Tuine het Vaal Emergency Care oorgeneem en Alex behandel, waarna hulle hom na Mediclinic Emfuleni geneem net. Hy is later na die Unie-Hospitaal oorgeplaas, waar hy Sondag geopereer is om die skrapnel uit sy brein te verwyder en die swelling op sy brein te verminder.

Sy toestand is steeds kritiek maar stabiel. Hy is onder verdowing en sy skedel is tydelik geopen tot die swelling op sy brein afneem.

“Ek wil vir Elsabé en Patricia van Vaal Emergency Care vir hulle vinnige optrede bedank, ons waardeer dit opreg,” sê Charlene.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button