Vals Facebook profiele wys gesig
Die verskynsel van vals Facebook profiele steek oral kop uit en het onlangs ook in ‘n buurdorp op die Potchefstroom Facebook groep gesig gewys. Die persone in beheer van die groep het die vals profiele van die groep verwyder. Daar was onder meer ’n vrou wat, behalwe haar eie, ook ’n tweede profiel onder ’n …
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/116/2016/09/facebook-fake-profile.jpg)
Die verskynsel van vals Facebook profiele steek oral kop uit en het onlangs ook in ‘n buurdorp op die Potchefstroom Facebook groep gesig gewys.
Die persone in beheer van die groep het die vals profiele van die groep verwyder. Daar was onder meer ’n vrou wat, behalwe haar eie, ook ’n tweede profiel onder ’n ander naam geskep het.
’n Loodgieter het drie profiele gehad, terwyl daar ’n spysenier is wat ook meer as een profiel geskep het. Die loodgieter het glo sy ekstra profiele gebruik om homself aan te beveel vir werk as iemand op die groep gevra het vir ’n betroubare loodgieter.
Die spysenier het weer die ekstra profiele gebruik om sy mededingers sleg te sê en aan te val.
Daar was ook ’n vrou wat ’n tweede profiel geskep het om haarself te ondersteun in argumente wat op die blad begin het. Wanneer ’n omstrede kwessie op die blad ter sprake kom, het die vrou haar standpunt met albei haar profiele verdedig. Nadat sy uitgevang is het sy die tweede profiel van Facebook afgehaal.
Volgens Isak Venter van die Potchefstroom Facebook groep is dit oneties en daarom probeer hulle die praktyk sover moontlik stopsit.
Volgens hom word daar gekyk na verdagte gedragspatrone.
“As dit dieselfde mense is wat heeltyd aanbevelings maak of aanval dan begin die rooi ligte aangaan,” vertel Venter.
Daarna word daar gekyk na die profiel self, hoe lank bestaan die profiel al, hoeveel vriende het die profiel en is daar foto’s van die persoon wie se profiel dit is.
“As die profiel nie baie lank bestaan nie en daar geen foto’s van die persoon nie, dan begin dit al hoe meer verdag lyk. As die profiel ander vriende het, dan stuur ons ’n boodskap na die vriende toe om te hoor of hulle die persoon ken. Dan sal ons ’n boodskap aan die profiel self stuur om ons kommer uit te spreek. As dit ’n vals profiel is blok hulle ons. Dan weet ons en die profiel word van die groep verwyder”.
Daar is voorbeelde waar mense wat vals profiele op die manier gebruik het krimineel aangekla is. Die klagtes wissel van diefstal van identiteit tot laster. ’n Facebookgroep waar vals profiele blootgestel word is op die been gebring. Die groep, Fake Profiles Exposed, ondersoek alle verdagte profiele, veral die wat moontlik deur molesteerders gebruik word om naby kinders te kom.