NewsNews

Uit my dagboek: Nuwe pa: Mamma nie bang vir bloed

Lank voor Aiden gebore is, het ek en my vrou ’n ooreenkoms aangegaan. “As ek bloed sien, wil ek flou word,” het sy al telkemale vir my gesê.

aiden op bike

Lank voor Aiden gebore is, het ek en my vrou ’n ooreenkoms aangegaan.
“As ek bloed sien, wil ek flou word,” het sy al telkemale vir my gesê.
Die ooreenkoms was dus dat sy die vuil doeke sal hanteer, terwyl ek enige situasie sal hanteer waar daar bloed betrokke is. Dit het aan die einde van die dag nie heeltemal so uitgewerk nie. Ek het ook maar my deel gedoen om vuil doeke om te ruil. Die afgelope naweek het Aiden buite gespeel, soos net ’n klein seuntjie kan, in die sand en op die stoep tussen almal terwyl ons braai. My skoonsuster en Aiden het “peek-a-boo” met die stoep se gordyne gespeel en voordat enige iemand kon keer, het hy sy balans verloor en met sy kop teen die hoek van die bedding geval. Ons eerste reaksie was om vir hom te sê “toe nou boeta, staan op,” omdat hy vandat hy kon loop, al oral geval het. Maar toe hy begin huil en mamma tel hom op, besef ons dat die hoek van die bakstene hom seergemaak het. Die bloed het teen sy kop in sy nek afgeloop en voordat ek kon reageer, het my vrou hom in haar arms gehad en die huis ingestorm om die bloeding te stop. Albei my skoonsusters is agterna. Ek het die braaitang aan my broer gegee en gaan kyk of ek kon help. Toe ek by die kamer instap, staan die drie vroue om Aiden. My vrou se hande was met bloed bevlek, maar dit het gelyk asof die bloeding onder beheer is. Aiden het al bedaar en ons kon kyk hoe erg die wond regtig is. Ek het die wond noukeurig geïnspekteer en besef dat steke nie nodig sou wees nie. Wat my die meeste verbaas het, was dat my vrou nie eens bietjie bleek geword het nie. Sy het rustig alles skoongemaak wat bloedkolle opgehad het en weer kom sit en verder gekuier. Ek is seker die adrenalien het gepomp en gekeer dat sy flou word, maar ek glo dat as dit ek was en nie Aiden nie, sy dalk sou flou word.

Related Articles

Back to top button