NewsNews

Kuns en kleure is Marcoleen se passie

VANDERBIJLPARK. – Met ’n verfkwas in haar hand en ’n verskeidenheid kleure verf is Marcoleen Britz (37) op haar gelukkigste. Haar kunswerke is sag op die oog met die fynste besonderhede wat boekdele spreek oor haar werk. ’n Groot eer het Marcoleen onlangs te beurt geval toe sy deur die Nelson Mandela Metropolitan Art Museum …

VANDERBIJLPARK. – Met ’n verfkwas in haar hand en ’n verskeidenheid kleure verf is Marcoleen Britz (37) op haar gelukkigste. Haar kunswerke is sag op die oog met die fynste besonderhede wat boekdele spreek oor haar werk.
’n Groot eer het Marcoleen onlangs te beurt geval toe sy deur die Nelson Mandela Metropolitan Art Museum in Port Elizabeth genader is om haar prag-skildery van wyle oud-president Nelson Mandela aan hulle te skenk. “Dit is vir my baie groot. Nie almal kan ’n portret maak wat presies lyk soos die persoon nie.”
Om te skilder is egter nie vir Marcoleen werk nie, dit is haar passie al sedert ’n jong ouderdom. “Op skool het ek altyd potloodsketse gemaak en met dié sketse het ek verskeie kompetisies gewen.” Marcoleen het haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Dr. Malan voltooi en daarna biomediese-laboratoriumtegnologie studeer, maar na twee jaar het sy besef haar passie bly by kuns, kleure en kultuur. Sy het daarna kunsklasse in fyn en kontemporêre kuns deur Wilma Steyn geneem en later van tyd ook deur die bekende Leonid Afremove. “Die belangstelling in my kunswerke het geweldig gegroei met verkope tot in Amerika en Australië.
Marcoleen sê buiten dat skilder vir haar ontspannend is, geniet sy die verskillende kleure en tegnieke wat sy vir haar kunswerke gebruik. “Ek hou daarvan om verskillende tegnieke vir een skildery te gebruik en is baie entoesiasties oor my werk,” sê sy.
Bekendes wat Marcoleen al geskilder het sluit onder meer in Ian Somerhalder (Damon Salvatore van die bekende TV-reeks Vampire Diaries), professor J.B. du Toit, bekende plaaslike sakeman, Llewelyn Cockcroft en dr. J.B Jacobs. Hoewel Marcoleen voltyds skilder omdat sy ’n leeftyd se idees het en weet wat sy in haar kunsloopbaan wil bereik, staan sy ook ’n tydjie af om kitaar en klavier te speel, asook naaldwerk te doen en dan is sy boonop nog ’n ma van vyf.
“Ek dank God vir die besondere talent wat Hy my gegee het en ek werk hard om naam te maak by internasionale galerye, dit is my ideaal vir my kunswerke,” sê Marcoleen.
Diegene wat belangstel in Marcoleen se kunswerke kan op Facebook, Twitter of Google gaan loer.

Nog een van Marcoleen se besondere kunswerke.
Nog een van Marcoleen se besondere kunswerke.
Marcoleen Britz van Vanderbijlpark met die kunswerk van wyle oud-president Nelson Mandela wat sy geskilder het. ’n Groot eer het haar te beurt geval toe sy deur die Nelson Mandela Metropolitan Art Museum in Port Elizabeth genader is om haar prag-skildery aan hulle te skenk.
Marcoleen Britz van Vanderbijlpark met die kunswerk van wyle oud-president Nelson Mandela wat sy geskilder het. ’n Groot eer het haar te beurt geval toe sy deur die Nelson Mandela Metropolitan Art Museum in Port Elizabeth genader is om haar prag-skildery aan hulle te skenk.

Related Articles

Back to top button