BlogsDie WoestynrotEditor's noteOpinion

Groot lockdownpolitiek, ‘n hart teen plaasaanvalle en ons bring hulde aan gevalle vriende

Na 'n jaagtog word daar 'n verskeidenheid van stropers met hulle honde vasgetrek.

Die laaste twee weke het ‘n tsunami van drama oor Dundee sien spoel.
Ons het net ewe skielik begin mense verloor, en die golf het diep deur die toerisme-bedryf in Noord-Natal getrek. Die opspraakwekkende gebeure by Rorkesdrift Hotel, waar Charles Aikenhead die lewe gelaat het na ‘n brand wat helfte van die ikoniese hotel in puin gelê het, het skaars in die stof van die Augustuswinde verdwyn toe die volgende slegte nuus my persoonlik tref. ‘n Ou vriend en kameraad van 38 jaar, is net skielik in sy slaap oorlede.

Vermoedelik ‘n hartaanval…? Maar die man was byna drie jaar jonger as ek, het ek gevra, en gewonder. Sy herdenkingsdiens was nog nie eers verby nie, toe gaan my volgende makker en voormalige kollega dood. Hy het gaan draf, begin sleg voel, ‘n bietjie gaan lê en nooit weer daar opgestaan nie.

Dan praat ek nie eers van die mense wat ek nie ken nie. Al gewonder hoeveel mense in hierdie dorp gaan maandeliks aan kanker dood…?

Net gister kondig Minister Dlamini-Zuma aan dat sy die noodtoestand met nog ‘n maand verleng. Die klein bietjie heuning wat sy en die res van die kombuisregering om die bitterpot van die openbare narratief smeer, is dat die ongewasde massas daarbuite nou weer mag drank en rookgoed koop van Dinsdag af. Die massas mor, die temperature styg, en Suid-Afrika beur voort deur die langste Covid19-inperking in die wêreld.

Die Groot Opperraad van Korona sit daar in hulle ivoortoring en bepaal die lot van leefhonger mense deur enkele pennestrepe, en die ongrondwetlikheid seëvier in allerlei geklikhede waarmee openbare persoonlikhede te voorskyn kom in ‘n poging om aan te pas by die sotlike liberale kniebuignarratief wat soos ‘n boetie van die Coronavirus van die Verenigde State van Don Quixote en sy Standbeeldbestormers van La Mancha hier na ons oorgewaai het. Dan, soos ‘n reddingsboei in die voortstuwende golf, sien ‘n bende plaasaanvallers by De Jagersdrift hulle gatte toe hulle dag dat die boer en sy vrou twee maklike etniese teikens gaan wees.

Hulle hou nie rekening met die veelsydigheid van mense wat genoeg gehad het nie, en toe hierdie boewe weer ‘n slag op hul omgewing konsentreer, is dit net wit Hilux-bakkies waar jy kyk, soos van die boeregolf van vergelding op hierdie rowerskuim toesak.

Nou ja, die een rower wat gestuur is om vir sy afspraak vir die Ewige Oordeel te gaan aanmeld, se bloed het nog nie eers in sy karkas begin stol nie, toe klap die volgende bondel skurke se gatte by die Dundee Vliegveld.

Na ‘n jaagtog word daar ‘n verskeidenheid van stropers met hulle honde vasgetrek.
Die boodskap is duidelik. Die mense is gatvol vir die golf van kriminaliteit wat soos ‘n siekte deur die land trek. Die tou skurke wat vir die Oordeel moet gaan aanmeld, gaan al hoe langer word, want ons is gatvol vir die ellende wat veroorsaak word deur idiote wat nie weet hoe om hulle werk te doen nie. Daar is hoop. Die mense is besig om op te saal.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

 

Related Articles

 
Back to top button