BlogsDie WoestynrotOpinion

Beurtkragleeus, krygswet, Sjinese virusse en daai groen biere…

Ons maak ook geskiedenis, ou moeder, maar jy sal dit nie sien nie.

Welja, het my ou moeder altyd gesê. Sy het as jong dogter die beperkinge en inperkinge wat die Tweede Wêreldoorlog op hulle afgedwing het, beleef, en sy het altyd vertel hoe hulle geskiedenis gemaak het daardie jare.

Dit was Ossebrandwagtyd, en al haar neefs was lede. Opspraakwekkende tye.

Nou, ek het altyd heimlik gewonder of ek sou voldoen aan die standaard as so iets my generasie sou moes tref, maar ons het nooit dergelike noodtoestande en trawalles gehad wat ons aan die neus kom vat het nie – tot nou…

Ek het net gehoor van ‘n virusuitbraak in Sjina (alweer?) en het my nie regtig daaraan gesteur nie. Daar was meer as een al, en selfs een in die VSA, onder die presidentskap van Obama, en het die VSA etlike honderde burgers aan die laaste een verloor, maar die hoofstroommedia het nou nie eers ‘n windjie gebraak daaroor nie.

Tot hierdie man sy hoed vasgeknyp het, en in verbysterende effektiwiteit soos ‘n plunderende horde Europa verswelg het.

Die Covid-19, of corona soos die volk hom noem, het baie gou die hele wêreld in die greep van ‘n nuwe pandemie gehad, en gedagteoomblikke van ‘n nuwe Swart Dood het voor my gees kom huiwer. Ons is almal in verpligte afsondering, iets wat ek my dag des lewens nooit geglo het sou gebeur nie, en hier is ons nou. Leë strate met net polisiemanne en soldate wat beweeg.

Heelwat volksgenote hier dink egter hulle kan nie siek word nie, en die Voetegang van die Gepeupel is nog daagliks hoorbaar… Tot hierdie draak uit sy grot uitkom… Ons maak ook geskiedenis, ou moeder, maar jy sal dit nie sien nie. Ons is in Dag Vier van ons eensame statutêr-verpligte afsondering, en ons wag vir die geskiedenis om oor ons te kom spoel.

Gedagtes van 1922 se bloedstorting maak my sleg slaap, maar ons is sterk, ons sal hom veg. Ons mense het die 1918-pandemie oorleef, die 1915-debakel en die mynstaking, en ons gaan hierdie een ook oorleef. Ons is net te lank al hier om deur ‘n Sjinese nagmerrie met ‘n kluitjie in die riete gejaag te word.

Daai losloperleeu van die Biggarsberge het hom net voor die inkerkering kom voorstel; eintlik ‘n heel vriendelike kêrel. Sê sy naam is Malcolm. Hy hou van krieket en kyk graag na Springbok ODI’s deur boere se sitkamervensters. Hy het blykbaar met Elvis se Sputnik langs die Nquthu-pad geland. Hy eet graag foksterriërs en boerbokke, en het blykbaar ook ‘n dwelmprobleem.

Die man wou die nommer van die polisiestasie gehad het, kan jy nou meer? Hy sê die boere het sy bas al vol dwelmpyle geskiet, en hy vang nou noodgedwonge ‘n middagslapie sommer hier in die park. Die worshond het Broer Malcolm net een kyk gegee, en toe vlug hy vir Skoon se badkamer.

Ek het vir Aap en sy luitenante gebel om die man te kom krat hier, maar toe hulle uiteindelik opdaag, het die ou al weer vertrek. Hy was weer op die Nyanyadupad gesien, maar ek dink dis sy broer Gavin, wat op Majubaberg bly.

Vrede van huis tot huis. Pasop vir die Sjinese virusse.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button