BlogsDie WoestynrotOpinion

“Beurtkragleeus en ablusieblokke sonder deure…”

"Die plaaslike inwoners hier praat deesdae van Coronaviruspark..."

Nou, ja – wat sal ons nou sê?

Die koerant het verlede week nog ‘n joernalis verloor, die waterbeperkings in die dag is iets van die verlede (nou kan my water net in die nag wegloop), Aap se spannetjie bokke is terug in McKenziestraat, en die boomboxparties in die park gaan voort met rasse skrede. Ek wonder nou of ‘n Zoeloebok ook Heineken drink?

Die toilette in Coronationpark is dakhoogte gebou, en hier en daar slaat daar blykbaar tekens van ‘n braaiplek ook uit. Die enigste probleem is dat daar ‘n doodse stilte oor die verrigtinge neergedaal het. Die groen sakheining staan nog daar, maar die doodse stilte op die site laat man nou wonder of hier nie weer ‘n kontrakteur ‘n Rubicon op die munisipaliteit getrek het nie…

Net soos die problematiese, halfvoltooide Rampbeheersentrum, waarvan die hysbakke nou nog in bokse daar lê, lê die Nuwe! Opgegradeerde! Coronationpark soos ‘n volgende halfklaar joppie oor die slagveld van hierdie disfunksionele munisipaliteit  gestrooi.

Die enigste verskil is dat die Ongewasde Gepeupel daarbuite nou onderdak gaan hê, so nou gaan die gedruis mos heerlik eksponensieel toeneem, nie waar nie?

As daardie heining in my leeftyd gebou gaan word, waar gaan die partytjiegangers se karre, wat van so ver as Pongola kom, nou parkeer? Voor die rolbalklub? Of in die straat, sommer? Dis ook nie meer snaaks nie, want niemand gaan iets daaraan doen nie. Ons moet maar kyk hoe lank vat dit voor daardie ablusieblokke weggedra gaan word. Of dalk afbrand.

Die rolbalklub (en my sitkamer!) was al meer as eenkeer onder die rook as robuuste partytjies Coronationpark aan die brand steek. In meer as een opsig. En dan moet ek die vuur gaan blus met emmers water, want die brandweer kry nie die park nie. Ook nie die vuur nie.

Die plaaslike inwoners hier praat deesdae van Coronaviruspark. Dis nou as die virus onthou het om sy stelte saam te bring dat hy nie in die oorblyfsels van curry tummies, groen glasstukke en gekompakteerde Kentucky bokse trap nie.

Ons sien nie meer gebruikte kondome nie, so die Ridders van die Nag vat hulle nou saam, of hulle gebruik dit nie meer nie, stellig?


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button