BlogsDie WoestynrotOpinion

Wanneer paradigmaskuiwe ons van beurtkrag na beurtwater gaan dra…

Die burgemeester het ook heel liries daarna verwys, maar helaas, die ou plannetjie het nie gewerk nie

Die eerste strompelinge van die lewe in die nuwe jaar gaan gewoonlik gepaard met ‘n gebrek aan geld, of eerder, vloeibare inkomste.
Die uitspattighede van die feesseisoen slurp kos élke jaar meer as die vorige jaar, en elke keer neem jy jouself voor om stadiger te gaan.
Dis gewoonlik die tyd wat mens jou badkamerskaal begin betwyfel, en dan skielik skrik as jy die laaste hoop dooie troepe by die agterdeur in die swartsakke hoor klingel soos wat jou tuinbou-ingenieur die sak wegsleep na die hoop by die hek toe.
Om oud te word in Dundee, is nie iets vir sissies nie.
Al opgemerk hoe verskriklik baie mense aan kanker sterf in hierdie dorp?
Om oud te word, is ‘n voorreg wat nie almal altyd beskore is nie.
Ons het nou die dag vir Norman Parkinson gegroet.
Hy is die laaste in die lyn van groot slagveldgidse wat by Rob Gerrard, Ken Gillings en oom Foy-hulle gaan aansluit het.
Dis tog só maklik om jou lewe hier met ‘n bol-in-die-broek benadering aan te pak. Vroeër jare was ons met die waai van ‘n hoed reg om te baklei.
Ons het eens op ‘n tyd weeklikse treurmares in die koerant gesien oor geraasbesoedeling, openbare alkoholgebruik en onbetaamlike gedrag in die openbaar. Doen jouself die moeite aan om so vir ‘n maand rekord te hou van drankmisbruik in die openbaar. Jy gaan op jou rug val as jy sou kon sien wie die voorsuipers hier is.
Ons het ook vaagweg iets gehoor van ‘n Rubicon-rivier. Dit was blykbaar die laaste rivier wat Julius Ceasar moes oorsteek, voor sy aanval op Rome, en as hy die Rubicon gekruis het, dan gaan alle pretensie langs die pad bly.
Of so loop die storie, altans.
Waar is al die mense? Waar is die nuwe pogings?
Die klakous van Glencoe kan nie ophou om sy beswete kloutjies te vryf nie.
Hier is nou ‘n man wat ‘n ding met ‘n plan sien.
Die burgemeester het ook heel liries daarna verwys, maar helaas, die ou plannetjie het nie gewerk nie. Die outoriteite sukkel maar nog om by die punte uit te kom, want al die óú dinge gebeur maar nog teen dieselfde pas. Hulle sukkel seker maar nog om die modder van die Rubicon uit hulle oorholtes gespoel te kry.
Nou moet ons nog net beurtkrag en beurtwater daarby voeg, plus al die infrastruktuur wat vergaan onder die gewig van al die nuwe mense in die dorp sedert 1994, dan het ons die vergelyking reg. By die Pick en Pay-parkeer- terrein slaat die Kreti en die Pleti mekaar nog steeds oor parkeerwalletjies en geelgeverfde rigtingpyle. Ons kan maar net nie daardie som suksesvol maak nie. Kontant-in-transito-waens dink hulle is die hoofhane op daardie mishoop, en parkeer mense vas na willekeur. Die Bala Bala shop by Tristar is nog steeds nie klaar gebou nie, en die Corona-virus slaan dalk al kamp op teen die walle van die Buffalo.
My Belgiese vrinne sou nou gesê het, “En zo dendert het op!”
Mog die voorspoed julle verveel, en die blou voeltjie van geluk net bokant jou kop vlieg.
Sela.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button