BlogsDie WoestynrotOpinion

Die dag toe die babers in die Rubicon begin tande kry…

"Almal het trokke gekoop, wat nou nie meer bestaan nie, en die keiser moet nuwe spele reël in die Circus Maximus..."

Aap skud die water van die Rubicon uit sy smoelhare uit, en vroetel vir sy Raybanne. As hy darem daai darkies moes verloor het… Miesies Aap sou darem sy Heiland aan hom voorgestel het.

Die burgermeester het hulle almal opgevorder om te kom konvooi ry vir die Nuwe! Verbeterde! munisipaliteit en al die grend dinge wat hulle gaan doen. Hy moes sy troep kornuite gaan wakkerskop, nugter kry en almal soort van in uniform gevloek kry, sodat hy darem ‘n soort van respektable portret op straat kan uitstal.

Dis nou as die burgermeester en sy hele gevolg in hulle twee splinternuwe koetse wat hulle gekoop het, oor die rivier kom aan druis. Ja, hoor – sy luitenant kry nie die hemp oor sy harige boeppens vasgeknoop nie, wat sedert ou Mieliepit, die Willsonstraattarentaal, hulle nie meer optjeck nie, het die manne ma so bietjie laat slaplê. Die hele ou spul het in beweging gekom.

Aap sidder as hy dink aan hoe hulle gaan sukkel oor die hobbelpad tussen Glencoe en Dundee. Vandat elke staatsamptenaar in hierdie Republiek sy glibberige hande die saligheid opgelê het, maak die Owerstes oor Al die Honderde net slagslote op die brug reg. Dis nou daar waar die burgermeester oor die Rubicon wil kom loop ry.

Die spul poelieste het al hulle landlyne laat uithaal, want niemand bel hulle meer nie, en dis sowieso makliker om op WhatsApp vir hulp te skrou as die Aai-Eff-Pee hulle weer op ‘n knop wil gaan jaag.

Die volk skrou om opwindig, die gladiatore en die krygers dans rondom die vure van Bacchus, en in die hoofgallerye knik die Waardiges en hulle vroulike Begeleidsters amptelik vir mekaar as hulle gaan sit. Die waterbotteltjies word onder die stoele ingesit, die blikke Coke op die tafel gerangskik, en by die poorte na buite skink die wagte ‘n knertsie uit die Owerste se fles Johnny Walker.

Die dinge van die dorp word kortliks onder die wakende oog van die plaaslike tabletbeitelaars gedoen, en daarna gaan die dorp in komitee in.

Die vierde tornado hierdie week kom skud homself vies uit oor die dorp uit, en in die Buffelsrivier dryf die vier jaaroue bolle en gedroogte toiletpapier voor die waterstraaltjie uit wat besig is om af te kom.

Die wêreld is droog, want dit reën op al die verkeerde plekke, die boere sit by hulle voordeure en gluur na die hadidas wat beesvoer uit die bakke uit steel. Almal het trokke gekoop, wat nou nie meer bestaan nie, en die keiser moet nuwe spele reël in die Circus Maximus.

Die gepeupel wil bloed sien, maar die Wagters op die Mure se pense is te groot om die gladiatore gevang te kry, so ons dink nou maar ons kan twee spanne saamstel uit die gevolg van die burgemeester uit. Die helse groot knal daar in die rigting van die rivier laat almal opkyk.

Die hele burgemeesterlike gevolg het van die brug afgery en in die rivier geval. Dis nou hoekom ou Aap so nat is. Red nou ‘n volk.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button