BlogsDie WoestynrotOpinion

Die dag toe die babers in die Rubicon begin tande kry…

"Nou ja, die nuwe burgermeester het sy naam op 'n projek geskryf om al twee hierdie parke in Dundee weer te omhein."

Die Lawwe Seisoen is alweer op hande, en oor bietjie meer as ‘n maand is dit Kersfees.

Die jaar lê inderdaad op sy rug, en die meerderheid inwoners in Dundee gaan een van die dae weer in oormaat getrakteer word op mobiele voertuigpartyjies. Die naaste oop kol word nagespeur, en daar word parkeer, musiek aangesit met al die deure oop, en dan kom daai groen bierbottels uit. Spanne van hulle.

Die plaaslike troebadoers begin dan ‘n pad uitskoffel reg rondom die voertuig, op die maat van die oerwoudritme, wat by die kar se oop ruite uitgeslinger word dat jy dit anderkant die Buffalo kan hoor. En ons drink, boet. Dis die grootste dorste wat hier sy kop uitsteek.

Nou ja, die nuwe burgermeester het sy naam op ‘n projek geskryf om al twee hierdie parke in Dundee weer te omhein. So ‘n soort van ‘n Rubicon wat hy oorgesteek het om maatskaplike euwels in hierdie dorp te bestry. Die enigste probleem is net dat sy perd op ‘n gebruikte kondoom gegly het, en hy met sy gat in die waters van die Rubicon geval het.

Die Romeine het nie die stad verlaat nie, en staan opgeline langs hulle double cabs en cabriolets hulle basse vir hom en aflag, terwyl hulle man-man nog ‘n dop gooi. Die wagters op die mure slaap die rus van eeue gesus, en die volk ploeg maar voort. In die Rubicon eet die babers nou perdehoewe, groen bierbottels en goeie bedoelings.

Die oewerboere knyp nou maar oog toe, want die Augustuswinde waai nou in November, en die berge kotsel, hope papier, hoenderbokse, Hennesey-labels en konjakproppe waai nou almal terug in die Hoofman oor Honderd se kantore op die plain in.
Wetstoepassing is iets wat die Britse kolonelle nog in Ladysmith gedoen het, en niemand gee om oor die drek wat orals in die strate versamel nie.

Geraasbesoedeling is iets wat net die inwoners wat daarna moet luister, pla, want dit staan blykbaar iewers in die grondwet dat hierdie mense die reg het om te raas en te suip. Net nie die plaaslke residensiële woonbuurt waarin hulle nou hierdie eer opgeeis het nie. Hulle het nou die reg om na hierdie geraas te luister, tot die gepeupel genoeg gehad het, en vrede weer oor die boomryke buurt toesak.

Daar is ‘n goeie kans dat ons nimlike polisie eerder by die partytjies gaan aansluit, eerder as om hulle stil te maak, en niemand bel hulle meer nie. Prata van futiele oefeninge. Dan raas en skel die edelagbares van ons howe dat die bywette in plek is. Ja, dis definitief in plek, maar dis soos ‘n naweekboer met sy pistool in die kluis, plaas van aan sy lyf.

Ons storm almal dreunlyf die toekoms binne, met die Rugbywêreldbekerkampioene aan die voorpunt. Baie lekker.

Iewers moet iemand weer gemors gaan optel, werkvoorsiening Endumeni-styl, en in die Rubicon wonder die babers of hulle tamatiesous saam met hulle nuwe stadsraadslede moet neem.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button