BlogsDie WoestynrotOpinion

Talana Live – uitgediende konsep of geldvoos publiek?

"Daar was 'n tyd wat Talanaberg gebewe het van die gedruis en opwinding met ons History-in-Action Festivals..."

Daar was ‘n tyd wat Talanaberg gebewe het van die gedruis en opwinding met ons History-in-Action Festivals.

Dit was die dae wat die ou hande soos Peter Jones, George Mitchell en Gavin Slater nog die Diehards gedryf het, en etlike kosstalletjies, ten minste een groot biertent, en dan sangers die skare vermaak.

Jip, daar was ‘n skare, en selfs ou Evan het daar in sy Carbineer uniform rondgeloop. Ons het dames uit die dorp uitgesien wat met hulle outfits daar kom aandag trek het. Daar was baie mense, en dit was op die hakke van die Biltongskou wat in die eerste week in Junie gehou was. Baie min mense weet watter uiters harde werk dit verg om só ‘n dag bymekaar te probeer sit, en om dan toe te sien dat dit reg verloop.

Die wetsaspekte van die historiese herlewing van die slag van Delvillewoud bring sy eie vlamringe waar deur die organiseerders moet spring om toe te sien dat alles glad verloop, en plan te sien as dit nie doen nie. Dis nie maklik om ‘n program te red as jy op jou voete moet dink om ‘n gat toe te maak as iemand nie opdaag nie, en mense soos Pam McFadden was tot die dood toe moeg teen die laat namiddag.

Talana Live het iets gebied vir die fynproewer, selfs al was dit nie ‘n goeie idee om die veld aan die brand te steek net voor die voorstelling nie, maar maak dit regtig saak? Die werk wat deur vrywilligers ingesit is om te verseker dat daar iets wat darem net naastenby soos Duitse Eerste Wêreldoorlogsoldate gaan wees, en die voorbereiding van die gevegsterrein, het sy eie bepaalde eise gestel waarvan baie min mense weet.

Die Diehards moes aangepas word om darem net naastenby soos Unie-Verdedigingstroepe te lyk, en ek kan dink hoe ou Gavin gebrom het oor al daai .303’s wat hy elke keer uit sy eie uit self skoonmaak. Daar was gevoel dat ‘n verandering van spyse iets anders op die tafel gaan plaas as die gewone Boer- en rooibaadjievoorstellings. Dit het – die enigste probleem was dat Dundee nie regtig na die tafel gekom nie.

Is ons moeg vir feeste en festivals? Wil ons ons terugbeweeg na vorige feeste se watermerk van sangers en suip? Braaivleis hou? Rugby kyk?

Dundee en omgewing is nie onbekend aan straatmarkte nie, so dis nie ‘n geheim watse harde werk dit is om ‘n stalletjie bymekaar te sit nie, maar as jy heeldag daar in die son moet gaan sit, en nie een besoeker kry nie, dan wil jy nie weer nie.

Is dit nie dalk nou die tyd om die Biltongfees en Talana Live in een saam te smelt nie? ‘n Fees met ‘n historiese en ‘n biltong- en bierkant? ‘n Meer redelike toegangskoste dalk? Waarom kom die plaaslike bevolking nie meer na hierdie verrigtinge toe nie?

Dit raak dalk tyd dat ons die volgende Talana Live – as daar een gaan wees, want jy kan nie die organiseerders kwalik neem as hulle gatvol raak nie – se tafel groter maak, en dat die hele Dundee kom aansit en sê wat hulle wil hê…


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button