BlogsDie WoestynrotOpinion

‘Die geval is ‘n noodsaaklike paradigmaskuif om te maak’

"Hulle was nog nooit nie, en ons kan nie bekostig dat dit die norm word nie..."

Die misbruik van dwelms en narkotika in Dundee het sulke bepaalde afmetinge aangeneem dat ‘n tragedie nodig was om die openbare kollig daarop te laat val.

Die eerste vraag wat by jou sou opkom, sou wees of die gemeenskap dit nou as korrek en aanvaarbaar sien. Die tweede vraag sou wees of plaaslike wetstoepassing nou al so ‘n lae vlak van Gods-water-oor-Gods-akker bereik het, dat hulle óf saamgedeel het in die profyte van dwelmhandel, dit self gedoen het, ef net eenvoudig nie geweet het daarvan nie. Ek kan al die beswaardes en daggaprofete hoor aanstoot  neem.

Wat is die plaaslike gemeenskap se weerstand teen heroïen- en/of kokaïengebruik, wat skynbaar die dwelm van keuse is, en gee ouers enigsins vandag nog om as hulle kinders narkotika misbruik? Kom ons kyk na die tragiese geval van Dave Yates.

Sonder om in detail in te gaan oor wat die man alles gedoen het, kan hier vir hierdie argument net gemeld word dat hy ‘n bepaalde aantal dwelmhandelaars hier in Dundee, en elders, op eie inisiatief om die lewe gebring het. My punt wat ek wil maak, is dat die grootste gedeelte van die gemeenskap het hom as ‘n held geprys, en hom toegejuig tot die dag van sy ongelukkige dood.

In ‘n vlaag van unieke vigilantisme het Dave die wet in eie hande geneem, maar is oorlede voor hy vir enigiets in ‘n hof kon teregstaan. Nou wonder ek net, gaan ons dalk die volgende ou wat dit doen, ook toejuig? As iemand nou gaan en alle huisbrekers wat gevang word loop doodskiet, of taxidrywers wat verkeerswette oortree, van ‘n kant af begin uithaal, gaan ons hulle ook toejuig?

Gaan ons wegkyk as iemand by implikasie nou dink hy het  die reg om iemand anders wat hom nie aanstaan nie, se lewe te neem? Gemenereg en wettereg, wat met die hulp van hofbeslissings van die vroegste jare ontwikkel het, het menslike samelewings geskei van die diere, waar tand en klou vandag nog geld.

Die feit dat daar ‘n regstelsel is, en daar is ‘n goeie een, is al wat ons gaan red van ‘n Lord of the Flies-scenario waar die man met die skerpste lem of die vinnigste pistool die baas gaan wees. Nie een van ons weet hoeveel keer die bestaan van hierdie stelsel ons lewens gered het nie, want ons beskou ons as beskaafd (wel, jy sou so hoop, nie waar nie?)

Dis die enigste manier hoe die swakkes onder ons van die tirannie van die sterkeres geweer word, want jy kan nie ‘n man se kop gaan wegblaas net omdat hy vir jou vrou gekyk het nie, al wil jy ook. Vigilante is nie helde nie.

Hulle was nog nooit nie, en ons kan nie bekostig dat dit die norm word nie. Daarvoor is die lyn tussen ons en die wilde diere daarbuite, al reeds te dun.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button