BlogsDie WoestynrotOpinion

‘Tyd om te fokus, boere…” – Devil’s Advocate

"My oorlede ou vader het baie dinge in sy lewe ook gedoen..."

Man, jy weet, ek vat-vat so aan 60 jaar se lewe, danksy die wil van ‘n Hoër hand, en ek het so af en toe in doodloopstrate ingestrompel. Dan het ek weer met net die broek aan my bas daar uitgekom, maar wat vir my punte tel, is ek het daar uitgekom – meer as eenkeer.

My oorlede ou vader het baie dinge in sy lewe ook gedoen. Hy was nie die wêreld se grootste en sterkste man nie, maar ek was vir hom so versigtig soos die duiwel vir ‘n slypsteen. Hoekom – omrede die outop al om die blok was. Meer as eenkeer, en ook in gate in waarvan ek nie eers geweet het nie.

Ons bevind ons een slag aan die walle van die Quandorivier, naby so ‘n Rynse sendingstasietjie waarvan ek nie meer die naam onthou nie. Outop moes een of ander waterverwante joppie gaan doen, want hy was mos ‘n hidroloog, onder andere, en hy het vir Waterwese gewerk.

Nou ja, ek was nie lus om in sy lesing oor salvinia molesta te sit en slaap nie, en het my broer loop soek. Dié het teen die rivierwal af gepeuter met sy visstokkie, want die tiere het geloop daar. My twee neefs was ook daar, en ek merk dat die manne in die koelsak was.

Twee Hansa Tafels (daai tyd was dit nog Hansa Tafels) later vat iets voor aan die mannetjie se lyn. Ek was min gepla, want dit was te warm. Hy swets toe daai ding daar voor hom byna regop pluk, en ek sit regop. Dis nie ‘n tiervis nie, en ek weet dat daar nie op hierdie streek water kabeljoue gaan wees nie. Net so gelukkig was ons nie.

Daar veg later drie manne met daai visstok, en ek begin my so effe geroepe voel om op te staan en te gaan kyk. Die manne beur, en die manne kreun, maar doer voor in die somber groen dieptes van die Quando stoei iets met daai spinner dat dit ‘n gruwelikheid is.

Hugo wil later lyn afsny, maar ek keer. Ons begin weer te rem, en ewe skielik is die lyn pap. Hy gaan lê somaar op die water, en ek sien dat hier iets aan die kom was. Ons staan so halflyf in die rivier in, en uit die hoek van my oog sien ek my outop op die wal wat op en af op sy hoed spring, en goete skree.

Ek kyk nog so, en toe beweeg alles in stadige aksie. Daar staan so ‘n halfwas krokodil uit die water uit op, en toe kom hy vir ons.
Keering Keesus, soos ek daai tyd altyd gesê het. My wêreld gaan aan die maal soos ‘n hoëspoed-wasmasjien. Ek hoor manne vreeslik lelik vloek, en ons storm soos die Light Brigade voor Sevastapol vir daai rivierkant.

My broer se taal raak pornografies naby my iewers, maar ek laat stoot vir die voorkant. Ek hoor tande klap (of anders het iemand beginne sockets rondgooi daar) en toe ons hele gedruis op droëgrond uitspoel, skiet my pa met die .303 agter ons.
Later die aand, by die vuur, kry ek dit reg om hom te vra hoe naby daai krokodil aan my was toe hy hom geskiet het.

“Ek kon julle altwee in die scope sien,” het hy gesê. Bid jou aan….


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button