BlogsDie WoestynrotOpinion

Fokus, projekteer, en bewapen jou met feite

Die president praat saam, wil jy haastig vir my sê, maar dis nie vreemd nie.

Hier is geen landbouer wat nog nie van grondhervorming of die beplande hervestiging van die ‘ware eienaars’ op hul grond gehoor het nie. Enige variasie of permutasie van die idee dat blanke boere die grond waarop hulle boer, gesteel het van die ware eienaars, sal hier ook inpas.

Daarby saam is ontrent elke vierkante duim grond in Natal onder grondeis. En dis eise wat al vir jare aankom, maar danksy die onbevoegdheid van die partye wat dit tot ‘n logiese konklusie moet deurvoer, versamel dit stof op die rakke van die department.

Nou, om net eenoggend op ‘n boer se plaas aan te kom en te verklaar dat die grond nou aan die ‘regmatige’ eienaars behoort, is ‘n drogdroom wat in die polities-verhitte raamwerk van radikale groeperinge in Suid-Afrika tuishoort, en dis nie nodig om name hier te noem nie. Dis almal ekstremiste wat grotendeels staat maak op die stemme van die ongesofistikeerde elektoraat, vir wie die bestaan van ‘n konstitusie vuurpylwetenskap is.

Die president praat saam, wil jy haastig vir my sê, maar dis nie vreemd nie. As jy basiese eiendomsreg wil verwyder, gaan jy een van die basiese beginsels van die Handves van Menseregte moet verander, en om dit in die parlement reg te kry, gaan jy 75 persent van al die stemme moet inkry. Dit gaan maar lol in ‘n regering wat deesdae teen homself oorlog voer.

Selfs al omseil die regering hierdie beginsel, waaroor hy homself besondere weerstand op die hals gaan haal, gaan boere net eenvoudig moet besef dit is tyd nou om te fokus. Hulle sit met ‘n polisiemag opgeskeep waarvan die meerderheid hulle glad nie goedgesind is nie, en dalk ook nog vir die fasilitering van plaasaanvalle verantwoordelik mag wees.

Die feit sal altyd bly staan dat ons voorouers hierdie land met niks begin het nie. Hulle het veranwoordelikheid vir hulle eie veiligheid geneem. Daar is geen kommandostelsel meer nie, maar boere kan dit omseil. Die organisering van plaaswagte in veiligheidstrukture sal al ‘n afstand in hierdie rigting loop.

Dit maak nie saak wat politici wil kwytraak oor die ‘grondkwessie’ nie, historiese feite spreek vanself. Gaan soek dit net op, of kom vra my. My ma se mense het al met bees in hierdie land geboer nog voordat uShaka kaSenzakakhona gebore was. Fokus, projekteer, en bewapen jou met feite, nie emosie nie. Beskerm jou huis en haard deur logies te dink, en moenie jou veiligheid aan die noodlot oorlaat nie.

Daardie oggend van 17 Februarie, 1838, nadat vroue en kinders bebloed en beseerd uit alle rigtinge rondom daardie halfmaan van slagting vanaf Blauwkrantz tot by Rensburgkoppie aangekom het, het ons manne hulle dooies begrawe, die leisels bymekaargevat, en voorwaarts gekyk. Ons het niks om onsself oor te bejammer nie.

Die monumente vir boere se standvastigheid, volhoubaarheid en muilagtige koppigheid om nie op te gee nie, staan hierdie hele provinsie vol. Gebruik jou kop, kyk voorwaarts, rig op die regterflank, en gaan voort. Rig jou hand van jou Skepper en gaan neem jou regmatige plek in hierdie land in.

Ons het niks gesteel nie.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button