BlogsDie WoestynrotOpinion

‘Dis tyd om die regte ding te doen…”

Die ysigheid, kwaadgeit en skielike hulpgebedjies na Bowe rol so in een golf uit my sigbare psige uit, en ek bel die aanklagkantoorkantoor by die plaaslike polisiestasie...

Die gebeure in Dundee die laaste paar weke dwing mens tot so ‘n bietjie retrospeksie. Regtig. Ek het so ‘n wyle gelede die voorreg gehad om ‘n gebeurtenis te gaan dek vir die koerant. En wat daarvan, sal jy wil vra.

Die verskil is dat die meisiekind wat die funksie by Dundee Hoërskool se koshuis vir haar ‘Matron’ as ‘n onverwagte afskeid gereël het, vir my by die hek staan en wag het, en in die saal gevra het of ek iets wil drink. Ek stel toe koffie of Coke voor, en sy sê sy organiseer gou iets.

Dis nie 100 jaar nie, toe kom ‘n vrou uit die kombuis uit,’n skinkbord met ‘n skoon glas en ‘n twee liter-Coke voor haar, aan. Ons aarde…. Ek kry die Coke, en sit dit toe maar daar iewers op ‘n tafel neer. Die kinders kom in, en daar word verskeie voordragte ter ere van die uittredende matrone gelewer, en so hier en daar pik iemand ‘n traan.

Ek loop agter in die kombuis in, en die mense vertel my hoe ‘good’ hulle ‘matron’ was. Ons neem later ‘n groepsfoto, en die matrone ken al die mense op hulle voorname. Oppad uit kom die adjunkmatrone aangedraf met ‘n kossie vir my, so in hierdie polistireengeitekies toegedraai. Die mense beginne kuier, maar ek moet gaan. Diens roep, jy weet.

Ek kom by die huis en val amper op my rug toe ek na die vrag kos kyk wat daardie mense my saamgegee het. Bloedvannerwalt. Die lekkergeite maak man se sakke sommer knopstaan.

Enkele dae later bevind ek my by Talana Museum, waar ek ‘n voorlegging aan ‘n skoolgroep doen. Ek is so driekwart deur my verhaal, toe my foon lui, met my vrou aan die ander kant. Hoogs ontsteld, vies, en vertel my daar was ‘n indringer op die werf, wat by haar werkkamer se venster iets probeer doen het.

Die ysigheid, kwaadgeit en skielike hulpgebedjies na Bowe rol so in een golf uit my sigbare psige uit, en ek bel die aanklagkantoorkantoor by die plaaslike polisiestasie. Dit was ‘n oefening in futiliteit, want die persoon (en ek gebruik die term ligtelik) wat op die telefoon diens gedoen het, het my ‘n lesing begin gee in hoe om met haar te praat.

Nou ja, ek het nie in die minste belang gestel in hierdie dame se brose ego nie, en het die foon doodgedruk. My benoudgeit begin my bloeddruk word, en ek spring op ons WhatApp noodgroep. Ek maak my verskoning blitsig by my kliënte, en gooi kole teen daai berg af om by my vrou te kom.

Toe ek naby my huis kom, staan die eerste reageerders op my noodkreet al reeds opgeline voor my huis. Afdienspolisiemanne, manne uit die omgewing, mense wat spesiaal reageer het, self mense uit Sibongile uit, tot Cheryl met haar sambreel!

Ons maak die hek oop, en ek storm in. Ons kom tot die besef dat daar nie meer ‘n gevaar dreig nie. Die kalant moes seker maar besef het dis tyd om te gaan. As my vrou hom in die hande gekry het…

Sy sien my en maak die voordeur oop. Ek staan later af, en besef later die aand dat met ‘n gemeenskap soos myne, ons almal veilig is. Selfs ons redelike nuttelose poelieste. Wel, bepaald nie almal van hulle nie, maar jy weet wat ek bedoel.
Sêla.

ALSO READ: Die Woestynrot wins big at Caxton Awards


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button